Einde van die dag
Twee suiltjies elk
met ʼn vlammetjie gekroon.
Kerse genoem,
of die daeraad van beskawing.
ʼn Paartjie sit by ʼn rondetafeltjie
in die laaste restaurant
wat oop is in ʼn kusdorp.
Hulle hou handjies vas
en drink ʼn heildronk.
Die tafel
is ʼn kring op ʼn staander
en verskaf die verhogie vir ʼn bietjie verstrooiing.
Hul oë kyk af, gesigte blink
soos maskers in die dowwe lig.
Die kernoomblik, is dit,
in ʼn Griekse tragedie.
In ‘n breuk-
sekonde leun hul na mekaar
oor vir ʼn aanraking en voel hulle
hoe dúrend die mense van die outyd was
wat nou vir ewig vort is.
Die deus ex machina
bring hul kos op ʼn skinkbord.
Die kerse smelt. Dis maar hoe dit gaan.
Die probleem
met ʼn onvergeetlike dag,
soos die geskiedenis,
is dat dit moet eindig. En aanstons
gaan party van ons huis toe na ʼn minnebed
en die ander slaap ewe rustig
voort deur die onmeetlikheid.
Die oppervlaktes
waarop geëet is bly agter
soos tafels diep in die aarde begrawe.
Dit is die lang, lang nag
van die roerlose tyd.
Tot, op ’n oggend in die verre toekoms,
die weersomstandighede weer ingeswiep sal kom
met ʼn uitskud van wit doeke
soos kelnerinne van bo
die breekware aan’t uitsit,
om nogmaals
die omwenteling te begin
wat kortstondig sal uitloop,
teen die aand,
in die lewe wat ons ken.
© Charl-Pierre Naudé, 2021
Baie dankie, julle twee.
Ek lees die gedig oor en oor, Charl-Pierre. Dis besonder aangrypend.
Hiervan hou ek baie, Charl-Pierre, veral van die momentum wat die gedig geleidelik kry.