Ons Huisie
On the other hand, free and independent as men were before, they were now, in consequence of a multiplicity of new wants, brought into subjection, as it were, to all nature, and particularly to one another; and each became in some degree a slave even in becoming the master of other men: if rich, they stood in need of the services of others; if poor, of their assistance; and even a middle condition did not enable them to do without one another. – Jean Jacques Rousseau
ek sit op die balkon van ons huisie.
sjoe, ons het darem
ʼn mooi huisie.
ons balkon kyk uit
oor ʼn land wat brand
ʼn wêreld wat mamma bang maak
maar hier binne het ons ʼn
flatscreen TV met internet
en alles wat ons gelukkig maak.
sjoe, ons het darem
ʼn mooi huisie,
ons is tog so lief vir ons huisie.
in ons huisie is ek gelukkig.
hier kan mamma ons kindertjies
met huiswerk help
en papppa in mamma se goeie boekies bly
as hy nou en dan vir haar oorbelle aandra.
saam, as gesinnetjie,
kan ons die mure van ons huisie verf,
alle kleure van die reënboog
en in die koerante lees
van ander mense se huisies
wat die slim mense gemeenskap noem.
sjoe, ons het darem
ʼn mooi huisie,
ons is tog so lief vir ons huisie.
pappa gaan elke dag werk toe
vir ons huisie.
hy sweet vir ons huisie
maar pappa gee nie om nie,
want hy weet dat hy dit eendag
vir ons kinders sal kan agterlaat.
pappa leer ons wat belangrik is:
dat die grootte van ons kinders se huisies eendag
gesetel lê in ons ambisie −
maar ek weet nie wat pappa bedoel nie
wat ek wel weet is dat ek eendag wil sing
op ʼn verhoog
soos daardie rock ʼn roll held: Valiant Swart
maar pappa sê daardie ouens sukkel maar
en hulle huisies het nie balkonne nie.
en sjoe, ek is darem lief vir ons balkon.
ons het ʼn pragtige balkon
wat uitkyk oor alles.
in die aande sit ek mamma pappa en sus daar –
ons kyk uit oor die newels en voel tog só trots −
ons huisie is die mooiste in die buurt.
pappa skink dan gewoonlik ʼn drankie
en voel tevrede en dankbaar, want:
die Here is goed en regverdig!
ons is tog so lief vir ons huisie.
sjoe, ons het darem ʼn pragtige en ruim huisie.
soms skink pappa ʼn tweede drankie
en kyk bekommerd na die fondasie
van die leë erf voor ons,
en teen sy derde begin hy kla
oor die plakkerskamp op die horison
wat dalk die waarde van ons ʼn huisie kan laat daal.
dis gewoonlik wanneer my gedagtes begin afdwaal
na die drukke van daardie liedjie
van my rock ʼn roll held
genaamd: Slawereën
© Bester Meyer, 2021