Walther von der Vogelweide. Vertaling in Afrikaans

 

Walther von der Vogelweide (ca. 1170-1230). Vertaling van Middelhoogduits in Afrikaans.

Vert. deur Gunther Pakendorf

 

Elegie oor die ouderdom[1]

 

Helaas, waar het al my jare heen verdwyn!

Was my lewe net `n droom, of is dit waar?

Dít wat ek gedink het dit bestaan, was dit ooit iets?

Dalk het ek aan die slaap geraak en is nou deurmekaar.

Noudat ek wakker is, herken ek dít nie meer

wat ek eens so goed geken het soos my eie hand.

Die mense en die land waar ek van kleins af groot geword het,

het vir my vreemd geword, kompleet asof dit `n fabel is.

My speelmaats van weleer is afgemat en oud.

Die lande is bewerk, daar`s min oor van die woud:

As die stroom nie sou aanhou vloei soos vroeër nie,

sou ek kon glo my ellende het geen einde nie.

Kennisse van vroeër groet my bra onwillig.

Die wêreld is vol van ongepoetste mense.

Wanneer ek terugdink aan die heerlike dae

wat nou verby is soos `n brander in die see   –

dan sê ek net telkens weer: helaas.

 

Helaas, hoe misnoegd is jong mense nie deesdae nie,

en tog het hulle eens so sorgeloos geleef!

Hulle kla alewig steen en been: wat veroorsaak dit?

Waar ek ook oral rondkyk: niemand is gelukkig nie:

dans, lag, sing is geheel en al deur angstigheid verdring.

Het `n Christenmens al ooit so `n treurige klomp gesien?

Kyk net hoe min aandag vrouens aan hul tooisels gee,

en trotse ridders trek dan nou soos agtervelders aan!

Uit Rome het streng briewe ons hier bereik,

wat ons toelaat om te treur en wat boonop vrolikheid verbied.

Dit maak my bitter seer (ons het vroeër goed geleef),

dat ek nou my lag vir trane moet verruil.

Ons klaaglied maak selfs die voëltjies in die bos bedroef,

is dit dan verbasend dat ook ek nie meer bly kan wees nie?

Maar ag, wat praat ek stommerik in my slegte bui?

Wie plesier hiér najaag, sal die genot daarbó verbeur.

Ek herhaal net weer: helaas!

 

Helaas, hoe is ons met soetighede nie vergiftig nie!

Ek sien bitter gal in die soetste heuning dryf:

Die wêreld is van buite nog so mooi, wit en groen en rooi,

maar van binne is dit swart, so donker soos die dood.

Hy wat deur die wêreld hier verlei is, sal homself moet red:

`n  bietjie boetedoening sal hom verlos van bose sondes.

Jul ridders, dink daaraan: dis júlle saak,

met julle glinsterende helms en jul harde yster-pantser,

boonop stewige skilde en swaarde wat gesalf is.

Mag die Here gee dat ék sulke seëning waardig was!

Dan sou ek in my behoeftigheid `n ryke loon ontvang.

Maar ek begeer nóg groot besittings, nóg die goud van vorste;

dis die kroon van saligheid wat ek ewiglik wil dra.

Laat `n huursoldaat dit met sy lans nastreef.

Maar as ek die veelbegeerde vaart oorsee[2] mag onderneem,

dán sal ek met vreugde sing en nooit weer treur nie,

ja,  nooit weer roep: ‘helaas’ nie.

 

 

[1] Die gedig is algemeen bekend onder hierdie titel. In sy oorspronklike gedaante het dit egter nie `n eie titel nie; dit is eers baie later bygevoeg.

[2] Verwys heel waarskynlik na die Kruistog na Palestina van Keiser Frederik II.  in 1228/29.

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Walther von der Vogelweide. Vertaling in Afrikaans”

  1. Helize van Vuuren :

    En plotseling rys NP van Wyk Louw se bytende satire oor die Afrikanerdom (wat ons “almal saamsleep na die mishoop” in “Nuusberigte 1956”, Tristia, oor die wildvuur van “besit” en rassehaat)
    duidelik hieragter op:

    “Het my land ‘n ander geword as wat ek ken?

    teenoor

    “herken ek dít nie meer
    wat ek eens so goed geken het soos my eie hand.
    Die mense en die land waar ek van kleins af groot geword het,
    het vir my vreemd geword”

    Dankie, Gunther, vir dié insig.

  2. Helize, nou weet ons ook waar Eugene Marais se “druppel gal in die soetste wyn” vandaan kom!

  3. Bernard Odendaal :

    Treffend. Dankie, Gunther!

  4. charl-pierre naude :

    Wat my tref van hierdie vertaling – wat geensins voel soos ‘n vertaling nie al is die gedig self geskryf in ‘n tyd lank voor Afrikaans of moderne Nederlands bestaan het soos dit nou bestaan – is dat die woordkeuse die leser glad nie verhoed om verplaas te word na daardie ou tyd nie.

Los kommentaar

 

*