Piekniek by El-myn (néé El Alamein) – Bester Meyer
( ʼn Kaartspel van Gode hiermee bemaak aan ál die kinders van Jeshurun)
In die verre dieptes van die woord koer daar ʼn kaartspel van die Gode.El
Die kaarte is alombekend en die metafore vry.
Wees daarom die vinger wat die knoppie deel,
want die kaarte is gedeel en die spel kan begin.
Kinders van Jeshurun, sing. Ja, kinders van Jeshurun, sing.
Sing, want die roete na El-myn, is ʼn roete van die hart.
Dit is ʼn roete wat die rigtingwysers van ʼn ‘volk van Israel’
wil aandui in die gestalte van vrede
wat die nuwe wêreldburger
tot by die drempel van Netanyahu en Abbas wil bring.
Want die Gode speel kaart en daar is niks
wat ons daaraan kan doen nie.
Die Gode sit op ʼn piekniekmat wat die aarde omvat, die kosmos omvat,
en wie is ek as Boer om hulle te wil bevraagteken.
Ek is maar net ʼn kaart in die pak.
ʼn Seun van die hoogste God
Yahweh, Ishvara, Allah
net ʼn el in die pakkie
van die groot El.
Want kaart word gespeel en die Gode speel groot.
Soos die val van enige dobbelsteen
is ek bly ek is as Boer gebore
maar my vriend Magmoed
sê selfs die gooi van stene
(soos in daardie wrede Intifada−tye)
word maar nét deur die noodlot bepaal
en my vriend Magmoed is so deel van die spel
soos die woorde van dié gedig.
Tog, omdat ek ʼn Boer in die pak kaarte is,
het ek ʼn aangewese reg
(soos almal wat saamspeel − )
om so nou en dan ‘hoog’ of ‘laag’ te val op die piekniekmat
want die Gode speel groot en as die Koning en Koningin gespeel word
dan is daar altyd die kans dat ek en die Aas ʼn verskil kan maak.
In die gedig is ek, dom-ou digter, die Boer –
Shahd Abuslama, Palestynse skoonheid en joernalis, die Koningin.
Shira Ben Avraham, ʼn oud-boerin, nou Judees
– ook ʼn sanger van formaat − die Koning.
Die Aas is iemand wat sing soos my vriend Magmoed
máár die altyd-veranderlike jakkals, die Skoppensboer,
is vir jou, leser by uitnemendheid, om as troefkaart met jou saam te dra
want die lewe is ʼn asemteug lank én beide kaarte en spelers
is ʼn broodnodigheid vir oorwinning;
en om passief te staan en toekyk
is nét so goed om sélf die swaard te swaai
in hierdie tye van vuurpyl-aanvalle en self-verwesenlikings.
Soms val die kaarte reg vir ʼn koning van ʼn vreemde land
soms val dit reg vir die bewoners van die lied
maar ten einde laaste speel die Gode hulle spel
en daar is niks wat ons daaraan kan doen nie.
Oor hierdie kosmiese mat – wat uitgestrek lê oor die wydte van die geskiedenis –
het ek nie veel beheer nie. ek is wat ek is, net ʼn Boer in die pakkie.
Yahweh lê uitgestrek op die piekniekmat, sy kaarte in sy kabaai se mou verskuil.
Ja, beide Yahweh en Allah is gekabaai in hierdie lied.
Hulle lyk presies dieselfde om die mede-piekniekgangers te flous.
Beroemdes doen dit mos maar
as Hul Hulself wil begewe in die ononderbroke vermaak van ʼn kaartspel
hier aan die buitewyke van ʼn Egiptiese stad
waarnatoe daar ook vantevore opgetrek is met dood voor oë,
en miskien sal ons ook later kan sê, soos ʼn leier van ouds:
Vóór die piekniek by El-myn
het ons nooit oorwinning gehad nie.
Ná die piekniek by El-myn
is ons nooit weer oorwin nie. [1]
Kinders van Jeshurun, sing. Ja, kinders van Jeshurun, sing.
Sing, want die roete na El-myn, is ʼn roete waarby dade gevoeg moet word.
Sing, want die roete na El-myn, is ʼn roete van harmonie.
Die kosmiese mat is verdeel in kleiner matjies
en die piekniekgangers speel
elkeen die spel.
Dit is ʼn spel van lewe en dood
ten klinkende vermaak van die Gode.
Dit is ʼn spel van taal en kultuur en god
maar almal is salig-onbewus
van die Gode se eie piekniekmat nie so ver van hier
wat Húlle, om menswees na te maak,
sommer onder ʼn olyfboom verskuil het.
Hulle wil saamspeel, en as hulle nie die kaarte deel nie,
wil hulle deel wees van kaarte se val.
Soms spring my vriend Magmoed, die Aas,
vanuit ons pak kaarte na dié van die Gode en weer terug,
want hy tree op as ʼn sogenaamde wild kaart.
Die mede-spelers, Shadh en Shira,
en die skugter-ou-digter, gee nie om nie.
Ons, die kaarte wanneer ons gelukkig is –
die spelers wanneer ons (on)gelukkig is –
altyd gebonde aan die spel
en soms trap spelers wat verneuk ʼn ou landmyn in die area af.
Maar moet nie dat ek op Shahd se hand praat nie, sy is in speler-mode
want dit is haar mense wat nou swaar kry
en Shira is grotendeels die kaart wat gespeel word
en in teenstelling
word haar mense nou weer daarvan beskuldig
dat hulle mense onderdruk. Die proses is onverbiddelik.
Die konings van die aarde het probeer sin maak van die spel –
Vir die Koning en Koningin probeer wys maak
hoe om te val.
Die konings van die aarde het deur vergissing en geweld
probeer noop dat daar ʼn einde aan die spel moet kom
maar die konings van die aarde het gefaal.
Die konings van die aarde het
− as gevolg van mag en geld en ander duister redes −
vir Shira aangesê om vir Shadh – by die deel van die kaarte – te fnuik
maar die Gode het laat geld (wat vir elke piekniekganger-speler geld):
moet nie inmeng met dit wat Ons vir ons spelers beoog nie.
Die konings van die aarde het gryskop en dwaas gesoek
na wapens-van-massa-uitwissing –
en is enersyds gefnuik deur die hand wat gedeel is.
Die konings van die aarde, in hulle wysheid en pag
wou -self- rigting verleen aan elke qibla en djihad
maar die Gode het keer op keer vir Magmoed, die Aas,
van pak na pak laat spring
met die ou lied
en die woorde wat altyd herhaal:
‘Mense is voëls wat nie kan vlieg nie.’ [2]
Magmoed, die Aas, het soms ingeloer by die kosmiese mat
(soos ʼn wafferse hoë-priester)
en is gebruik om die spel van die Grotes interessant te maak.
Die Grotes, alomteenwoordig-Goddelik in die strewe na
om ook ʼn bietjie deel te wees van die menslike aksie
maar outonoom onafhanklik en onsigbaar
onder die groot ou olyf − waar hulle speel.
Tog, met ʼn wild kaart soos Magmoed in hulle pak
kan hulle as Godhede voel hoe dit voel om as mens kaart te doen −
om as mens in die lug opgegooi te word
en kaplaks neer te val
op die gatkant van die komiese mat
maar tog so deel te wees van die spel.
Hoe dit voel
om as mens te bid vir jou mense én ander mense se moeders en kinders
maar nooit te weet of enige van jou gebede God-ore vind nie.
Om as ʼn mense −
soms nie eers met kaarte gedeel te word nie
maar weliswaar te oorleef as bannelinge van die lied.
Om as ʼn mense –
vir generasies lank onderwerp te word
aan die val van die kaarte – soos die gooi van dobbelstene in Las Vegas
en om lied na lied daaroor
te komponeer.
Om as ʼn mense –
ʼn ‘toegangskaartjie’ gedeel te word
na die donker gaskamers van ʼn ander-eeu-mal-Fascistiese-spel.
Om as ʼn mense –
saam gekaart te word in ʼn staat
waar ek jou aller-heiligste plek
met my aller-heiligste plek móét deel
én ons ons kinders
in die aandskemering moet groot maak
met ʼn altyd revolusionêre hart en pak kaarte
sodat ons ons goedjies en taal en kultuur en God
kan laat oorwinter, kan laat oorleef en bewaar.
Om as ʼn mense –
wat vroeër as onderdrukkers beskou is
te probeer uitreik na die mense
van ʼn moontlik apartheidsregime
en stert tussen die bene
geïgnoreer te word.
Kom die kaarte in die Gode se hand dalk uit Uruk van ouds?
Of speel Hulle nie met die kaarte van ander gode nie?
Het die Koning in die pakkie dalk die gesig van Gilgamesj?
En die Koningin, die van Enkidu?
Mars hulle op om mekaar te dood
máár sal hulle later vriende word?
Of is dit net wat die storieboek (mag) sê?
(Miskien sal daar vir die Koning en Koningin
ʼn identiese klinknael borsharnas gesmee word
en terwyl die konings van die aarde
vyf nuwe drome van mislukking droom
sal Shad én Shira ʼn ‘volhuis’ neersit
wat die tong van die duistere ondier
vir altyd sal stil – want ‘ ʼn glibberige pad
word nie gevrees as twee vriend mekaar help nie.’) [3]
Ek vra: Word die onderdruktes dan altyd die onderdrukker, Magmoed?
En lag die Gode in hulle mou vir ons?
Is alle spelers aangewese op hulle kaarte
om ʼn verskil te maak?
Of is daar iewers nog Iemand wat hoor?
Iemand wat af kan kom van die Goddelike troon, die Goddelike kruis
die goddelike menslike instansies
om vir die piekniekgangers water te bring vir die dors?
Die brood as’t ware te breek?
En die vloei van die bloed te beëindig?
Hy sê: Die roete na El-myn is ʼn futiliteit
máár die roete na El-myn is menslik-mooi.
Soms as Magmoed terugkeer vanaf daardie onsigbare kosmiese mat
is hy (as self) baie afgemat – want om as wild kaart te dien –
is om woorde teen die wolke te gooi
lettergrepe in die wind te laat dryf
want dié wat sing en speel en gebede bring
word maar altyd gekortwiek in hulle menslike aard
in vergeleke met dit wat aan en aan en aan tot in ad infinitum toe aan toe gaan –
die altyd onomwonde teenstrydighede van: God in vergeleke met mens.
Mens in vergeleke met voël.
Heer in vergeleke met Vrou.
Boer in vergeleke met Aas.
God in vergeleke met God?
Hy sê: Die Skoppensboer is die een wat die probleme bring.
Ek sê: Ja, soms is dit so.
Maar sommige spelers verkies om sonder die Skoppensboer te speel.
Hy sê: Ja, ek hoor hulle haal hom sommer heeltemal uit die pakkie.
Ek sê: Die sluwe jakkals, Skoppensboer, wie het hom as troefkaart gebruik?
Hy sê: In Hulle laaste spel was dit Allah. Hy het groot gespeel.
Ek sê: Ek het altyd gedink die Skoppensboer mag net ‘gespeel’ word onder
ʼn vyeboom? En hulle sit dan onder daardie groot ou olyf, so verneem ek?
Hy sê: Dit is simbool van die bloed van die ál die kinders van Jeshurun.
Ek sê: Magmoed, met jou Shira en Shahd in my lewe, is die lewe ʼn lied.
En om hierdie spel op ʼn dag soos vandag te speel
by hier see-stad piekniek, ʼn absolute voorreg!
Deel my nog ʼn hand, sodat die lied van lyf na lyf kan spring.
Kinders van Jeshurun, sing. Ja, kinders van Jeshurun, sing.
Sing, want die roete na El-myn, is ʼn roete van verdraagsaamheid.
Hierdie kaartspel is soos ʼn slagveld om Jerusalem
soos in die jare ouds toe die Leeuhart
opgetrek het teen Saladin.
Elke kaart in die pak
het die doel om die nuwe Jerusalem te bevry
deur ʼn oorlog op die vlaktes van Kurukshetra.
Die konings van die aarde wil Jerusalem bevry
sonder om ware bevryding te bring −
Miskien moet die konings geïgnoreer word?
Hoe kan ons hierdie kaartspel
speel sonder om die (ek) te onderdruk?
Om die Koning Koningin Boer en Aas
in perfekte harmonie te bring
en om die spel te speel
ten behoewe van ál die piekniekgangers?
Om te speel om moksha en samādhi daar te stel?
Om met of sonder Skoppensboer as hoëpriester en/of kalifaat
ons selfsug – ten doel van die spel en hierdie piekniek – te verraai?
Hy sê: Moksha is diens aan ander. Waar die (ek) plek maak vir die Self.
En onthou moksha kan nie bereik word nie.
Ervaring is blou en blou is die kleur van die hemel.
El-myn is ʼn roete van die hart as jy wil hê dit moet so wees.
El-myn se roete is wat die geskiedenis nié leer nié.
El-myn is die wit en die swart van ʼn yin yang-teken
waar grense en kleur oorbodig geword het
wat vervloei, ontvorm en verenig tot
Een volk Een stam Een Een-heid: ʼn Mense
want die Koning het die Koningin tog nodig
soos die voël die lugstrome nodig het
en die Boer en die Aas is op mekaar aangewese
om te voorkom dat die Gode moeg word
vir die kaarte in hul Hand.
Die roete na El-myn is om die self te verraai.
Sing, Magmoed, sing ʼn bowemaanse lied.
Wees jou avatar uit die verre Ooste
en gee my – die een wat na jou opkyk –
mistieke insig en mitiese intuïsie
om ʼn lied te komponeer vir jou mense
my mense, Shira se mense en bloot net ménse.
Wees jou avatar uit die verre Ooste
en maak my ʼn kryger van die lied −
ʼn kryger wat die wapenrusting sal gebruik
maar ook wanneer nodig – om daarby ver-by te kyk.
Gee my ʼn sterk versiende siel, verstand en hart.
Ek sê: Maar moet ons werklikwaar veg, Magmoed?
Moet ons moor vir grondbesit, oor besetting en kultuur?
Hy sê: ʼn Mens moet dóén waarvoor jy op hierdie aarde geplaas is.
Maar onthou dat die sterre getuies is van dit wat ons doen.
Onthou dat Oog-vir-ʼn-oog vir sommiges ʼn Godsdiens is
en vir ander -weer- is geweld teen selfs ʼn mier taboe.
ʼn Mens moet dóén waarvoor jy op hierdie aarde geplaas is.
Ek sê: Ek wil nie veg nie, Magmoed. Ek wil nie.
Nie teen Shira en Shahd óf hulle mense nie.
Ek sal eerder in die note van die lied wil skuil.
Hy sê: Die kaartspel is ʼn geveg van vrede. Jy móét dit mee maak.
En onthou, een van die Heilige Tekste leer ons:
‘Of die een met die swaard dink hy is die laksman
en of die martelaar dink hy word gemartel
(soos wat hy ʼn gekniel staan onder die laksman se hand –)
Hulle is albei verkeerd.
Daar is nie ʼn laksman of martelaar nie.
Die siel kan nie moor of vermoor word nie’ [4]
Sing ʼn bowemaanse lied vir die pelgrims onder die bome
almal op hulle piekniekmatjies uitgestal tot die Gode se vermaak.
Sing sodat die boodskap kan opgaan
en sodat elke hand, sy ‘hoogste’ hand kan speel.
Stuur vir die Koning ʼn fiere perd uit die stal van Saladin.
Stuur vir die Koningin wierook uit die stal van Nasaret
Stuur die Boer en Aas uit met goud en mirre
na die uithoeke van die aarde
en as die Gode so wil, laat ons mekaar se geskenke aanvaar.
Stuur vir die rekenaarbase ʼn antieke iets moois
om by die algoritmes in werk, as jasmyngeur vir ons nagte.
Laat elke kaart onderteken word deur ʼn burger
wat homself nie nét wil vergryp aan sy eie identiteit
en ambisie nie – maar laat ons meedeelsame-gebede spreek.
Laat elke kaart ʼn donasie bevat
vir die herbou van die rommelhope
aan die kuste van daardie strook
waar die kinders ook maar net nog kind wil wees.
Laat die wat net ‘laag’ gespeel is, weer ‘hoog’ (kan) speel.
Laat die wat ‘hoog’ gespeel is, weet selfs al speel hul
bietjie laer − het hulle steeds alles om as piekniekganger te oorleef.
En laat die Gode ons tog genadig wees!
Laat elke piekniekganger sy troefkaart vind
in die verskietende sterre van gister
of laat hom of haar of hulle
hulleself losmaak van die aandskemering van gister
en streef na die daeraad van ʼn nuwe môre.
Maak dat ons dit in ons harte sal vind
om ʼn wild kaart in iemand anders se geskiedenis te word.
En laat elkeen se persoonlike Skoppensboer hom tog begenadig!
Laat Magmoed, die Aas, aanhou om by die Gode in te loer –
om te verseker Hulle kaarte verraai ons nie.
Dat Hulle ook hulself by
wat hierdie piekniek ten doel staan – berus.
Laat Magmoed aanhou om in te luister op die Gode se dialoog,
sodat hy hierdie gesprekke
op ʼn oop en deursigtige wyse
as boodskap van die Gode aan ons kan herhaal
om ons in staat te stel om menslike dialektiek
met Goddelike dialoog te vervang.
Kinders van Jeshurun, sing. Ja, kinders van Jeshurun, sing.
Kinders van Jeshurun, sing. Ja, kinders van Jeshurun, sing.
Kinders van Baäl en Anu sing!
Kinders van die Gita en Juda sing!
Kinders van Jesus en Mohammed sing!
O sing, piekniekgangers van El-myn –
sing ʼn lied wat almal wil hoor!
En Magmoed het teruggekeer van groot ou olyf
en hy het met my begin praat oor ʼn gesprek van die Grotes:
Hy sê: Dit is asof Hulle uit Een mond praat.
Asof die kaarte wat hulle neersit
nooit té hoog of té laag is nie.
Ek vra: Maar wat sê hulle van die konflik?
Hy sê: Hulle sê dis mensgemaak.
Ek vra: Maar ondersteun Allah nie sý mense,
en Yahweh sý mense nie?
Hy sê: Yahweh sê: ‘Hy is wat Hy is’
en Allah: ‘Hy is die Een’
Ek vra: Maar Wie se kaarte was die hoogste?
Hy sê: Dit is asof Hulle uit Een mond praat.
Asof die kaarte wat hulle neersit
nooit té hoog of té laag is nie.
Ek vra: Maar wie het gewen?
Hy sê: Die uitslag was onbepaald
maar Hulle het my wel beveel
dat ek van pak na pak moet spring
− as wild kaart −
terug na die piekniekgangers moet spring
met die woorde van Surat 29 vers 46.
Ek vra: En is dit die Skoppensboer?
Hy sê: Die Skoppensboer is vir elkeen om te besluit.
Kinders van Jeshurun, sing. Ja, kinders van Jeshurun, sing.
Sing, want die roete na El-myn, is ʼn roete van die hart.
Kinders van Jeshurun, sing. Ja, kinders van Jeshurun, sing.
Sing, want die roete na El-myn, is ʼn roete van verdraagsaamheid.
Ja, kinders van Jeshurun, sing.
Sing, want die roete na El-myn, is ʼn roete van harmonie …
… en wees …
die wild kaart wat onder ʼn olyf- of vyeboom gespeel (kan) word.
© Bester Meyer, 2021
Nota: Surat 29:46 van die Koran: En moet nie verskil met die navolgers van die Boek nie; tensy dit nodig is nie, behalwe die wat onregverdig optree en sê (eerder): Ons glo wat aan ons geopenbaar is en aan wat aan julle openbaar is, en ons Allah en hulle Allah is Een, en aan Hom alle eer (soos vertaal deur die digter).
Bron: The Quran, Muhammad M. Pickthall, Ed.
(https://www.islam101.com/quran/QTP/index.htm )
[1] Die verwysing hier is na Winston Churchill se toespraak na die slag van El
Alamein.
[2] Die aanhaling kom uit die Hoep-Hoep van Magmoed Darwiesj voorheen op
hierdie webblad verskyn.
[3] Die aanhaling kom uit Tablet 5 van die Epiese Gilgamesj gedig soos in Afrikaans
vertaal deur die digter van Maureen Gallery Kovacs se Engelse vertaling. Wolf
Carnahan, 1998.
[4] Die aanhaling is ʼn omdigting van Hoofstuk 2 vers 19 van die Bhagavad Gita.