Alwyn Roux. Wat is kuns?

Deleuze en Guattari (1994:163) gaan in hulle teks, What is philosophy? (1994), en meer spesifiek, die gedeelte wat handel oor kuns, getiteld “Percept, Affect, and Concept” (Deleuze & Guattari, 1994:163), van die volgende standpunt af uit: “Art preserves, and it is the only thing in the world that is preserved.” Dié stelling word op sorgvuldige wyse uitgebrei, met insigte rakende kuns, die kunswerk en sy bestaansmiddele (materiale soos steen, skilderdoek, chemiese kleur, ensovoorts), en die verhouding tussen die kunswerk en die kunstenaar. ’n Werksdefinisie van kuns word voorgehou as “a bloc of sensations, that is to say, a compound of percepts and affects” (Deleuze & Guattari, 1994:164). Die “sensasies” is nie ‘n semiotiese konstruksie nie, maar bestaan uit “persepte” (“percepts”) en “affekte” (“affects”), wat in die “afwesigheid van die mens” as “onafhanklike wese” bestaan. Terselfdertyd beteken dit dat persepte nie iets met persepsies, of affekte met affeksies, te make het nie (Deleuze & Guattari, 1994:164).

Die bestaan van kuns word voorafgegaan deur die moontlikheid van die tevoorskynkoming daarvan. Die bespreking hiervan is belangrik, aangesien dit, op ’n soortgelyke wyse as Grosz (2008:1), ondersoek instel na die omstandighede wat kuns moontlik maak: “… I aim to explore the conditions of art’s emergence, what makes art possible, what concepts art entails, assumes, and elaborates.” Dit is veral sensasies soos klanke en kleure wat die tevoorskynkoming van kuns moontlik maak. Simon O’Sullivan se hoofstuk, getiteld “The Ethicoaesthetics of Affect and the Bloc of Sensations” in Art encounters Deleuze and Guattari (2006), plaas Deleuze en Guattari se hoofstuk oor kuns onder die vergrootglas.

O’Sullivan (2006:53) vra of daar nie iets is wat kuns “definieer” vanuit die perspektief van “vervaardiging” nie: Wat is die ding wat kuns konstitueer “anderkant” sy bestaan as brute saak?, en stel dat daar voorlopig met “styl” volstaan kan word. Dit wil sê, styl is dit wat kuns tot stand bring, maar ook ’n spesifieke samestelling van sensasies preserveer. Hiervolgens word kuns verstaan as ʼn “gekomponeerde ding”, wat “verbygaande sensasies” preserveer. Kuns voer ʼn onafhanklike en selfonderhoudende bestaan in die wêreld en funksioneer onafhanklik van sy produseerder. Hiervolgens kan kuns verstaan word as ʼn soort “monument”, selfs al bestaan dit slegs uit ʼn paar lyne. Deleuze en Guattari (1994:164-165) maak gebruik van die voorbeeld van Emily Dickinson: “… that may be contained in a few marks of a few lines, like a poem by Emily Dickinson”. Kuns word dus verstaan as ʼn monument, maar nie ʼn monument wat die verlede herdenk nie; dit het nie ten doel om ʼn “afwesige-aanwesige” op te roep nie; inteendeel, die monument is die komplekse materiaal of samestelling van woorde en klanke, of toon en kleur (O’Sullivan, 2006:54). Hiermee word wegbeweeg van ʼn dekonstruktiewe paradigma, van die “afwesige-aanwesigheid” van die kunstenaar, van kuns as ʼn soort “spoor” of “handtekening”, en weggedoen met representasie (O’Sullivan, 2006:54). Daar word drie monumentale vorms (“great monumental types”) of variëteite, dit is versameling sensasies, onderskei:

… the vibration, which characterizes the simple sensation (but it is already durable or compound, because it rises and falls, implies a constitutive difference of level, follows an invisible thread that is more nervous than cerebral); the embrace or the clinch (when two sensations resonate in each other by embracing each other so tightly in a clinch of what are no more than “energies”); withdrawal, division, distension (when, on the contrary, two sensations draw apart, release themselves, but so as now to be brought together by the light, the air, or the void that sinks between them or into them, like a wedge that is at once so dense and so light that it extends in every direction as the distance grows, and forms a bloc that no longer needs a support). Vibrating sensation – coupling sensation – opening or splitting, hollowing out sensation (Deleuze & Guattari, 1994:168).

Vir Deleuze en Guattari is kuns ʼn komposisie van persepte en affekte, wat bymekaar gebring word as ʼn sekere ritme – kunstenaars is diegene wat nuwe variëteite of verbindings van affekte na die wêreld  bring. Hiervolgens word kuns as die aktualisering van die virtuele bedink, dit is die beliggaming van ander moontlike wêrelde. Deleuze en Guattari (1994:177) verwys na ’n “Rembrandt-universem” of ’n “Debussy-universem”, maar hierdie universums is nie virtueel of aktueel nie, maar “moontlikhede”; dit wil sê, die “moontlike” as “estetiese kategorie”, die bestaan van wat moontlik is, hetsy die gebeurtenisse werklik of virtueel is (Deleuze & Gauttari, 1994:177). Die kunswerk is nie ʼn representasie nie, maar ʼn uitdrukking van ʼn spesifieke visie op die werklikheid. Die kunstenaar word dan verbeel as ʼn soort profeet, en het die krag van die lewe gesien wat onderliggend is aan die wêreld wat tipies ervaar word. Deur sy of haar artistieke metodes word die ervaring deur ʼn blok van persepte en affekte staan gemaak (O’Sullivan, 2006:54-55).

“Persepte” word deur Deleuze en Guattari (1994:169) as “non-human landscapes of nature” beskryf, en “affekte” as “non-human becomings of man”. Hierdie “becoming” (of “wording” in Afrikaans) word deur O’Sullivan (2006:56) as kritiek op die begrip “Syn” beskou. Waar “syn” staties is, dit wil sê, wat identiteit vir tyd en wyl vasmaak, is “wording” vloeibaar en dinamies. Wording beteken om sensasies te ondergaan, hetsy deur woorde, kleure, klanke, of steen; kuns is die taal van sensasies. Dit kom deur die kunstenaar se styl tot wording, insoverre die wordingsproses dan die vasvang van sensasies is. Vergelyk Deleuze en Guattari (1994:166) in hierdie opsig: “We paint, sculpt, compose, and write with sensations. We paint, sculpt, compose, and write sensations.” Die deelname aan kunswerke moet verstaan word op die vlak van komposisie waar die materiaal sensasie word. Hiervolgens sou betekenis slegs beskryf kan word as die koppelvlak tussen materiaal en sensasie, en het estetiese figure niks met retoriek te make het nie – hulle is sensasies: persepte en affekte, landskappe en gesigte, visioene en wordings (O’ Sullivan, 2006:56). Kuns het nie “opinies” nie, en die digter gebruik woorde en sintaksis om taal te laat huil en sing, en is dit wat “styl” genoem word (Deleuze & Guattari, 1994:176) .

Vervolgens word daar kortliks gekyk na die drie elemente wat Deleuze en Guattari (1994:178) onderskei, naamlik die “vlees” (of “figuur”), die “huis” (of “raamwerk”) en die “kosmos” (of “heelal”), wat insiggewend blyk te wees in die verkenning van relasies tussen die kunstenaar en die kunswerk, asook betreffende die analise van die kunswerk. Die eerste element, die vlees, word nie beskryf as ’n sensasie nie, maar is wel daarin betrokke om sensasies sigbaar te maak. Die vlees beliggaam nie ‘n sensasie nie, maar is dit wat sensasie konstitueer om byvoorbeeld dier of plant te word, en kan beskryf word as “die termometer van wording” (Deleuze & Guattari, 1994:178-179). Die tweede element, die huis (of raamwerk), word deur “onderdele” beskryf, dit is verskillend georiënteerde vlakke wat die vlees van sy raamwerk bedien – die voorgrond en agtergrond, horisontaal en vertikaal, links en regs, reguit en skeef, reglynig en krom (Deleuze & Gauttari, 1994:179). Die derde element is die heelal of kosmos, waarin nie net die oop huis met die landskap kommunikeer nie, maar ook die mees afgeslote huis met die heelal. Die heelal is nie vlees nie, en het ook nie verdelings nie, maar skakel met oneindigheid. Die heelal verskyn as die area van eenvoudige, eenselwige kleur; die figuur is nie meer ʼn bewoner van die plek of die huis nie, maar die heelal wat die huis ondersteun (wording) (Deleuze & Gauttari, 1994:180-181).

Hierdie elemente is nie net belangrik in die beskrywing van relasies by die analise van die kunswerk, soos ’n gedig of skildery nie, maar ook ten opsigte van die kunstenaar se taak om die kunswerk deur sensasie op sigself staan te maak.

Bibliografie

Deleuze, G. & Guattari, F. 1994. What is philosophy? New York: Columbia University Press.

Grosz, E. 2008. Chaos, territory, art. Deleuze and the framing of the earth. New York: Columbia University Press.

O’Sullivan, S. (2006). Art encounters: Deleuze and Guattari. Thoughts beyond representation. London, UK: Palgrave.

Bookmark and Share

Comments are closed.