Al die lieflike dade
Van meet af aan was die sondigheid in verhouding tot die werklike onskuld van die mens. Laasgenoemde is sy oorspronklike en fundamentele toestand.
– pous Johannes Paulus II.
Niks is so goedhartig soos die mens in sy primitiewe toestand nie.
– Jean-Jacques Rousseau.
Simunye, we are one.
– TV-klingel van SABC1.
Hierin steek geen waarheid nie,
géén –
niks nie.
Ek weeg my woorde:
Dis ʼn vrot kol in die goedheidsvrug
dat groter of langer
blare uit die nydlose klein bol
van self- of belange-
loosheid
spruit.
Geen
waarheid
steek
dáárin
nie.
nie.
voort
rose
geen
bring
Dit
’n Stralende kern
van die vrugdraende rede
wat moeisaam gegroei het uit ’n tak
is dit nié –
wel ’n aangehaakte
feëlantern.
Vir niks kan dít ’n (boom-
of) aanvangspremis wees nie.
Die sondelose eerste mens
en sy narcisbeeld,
die “edele barbaar” –
ongetwyfeld ons ontstaan?
Die bose stoel tog saam
met goedheid onder selfbewussyn
se gewelf –
twee skimmige skaduwees
van één
horingkop-aan-’n-muur,
wat in die hoë uur van die skemer
uitklim bo die altaar.
Al die gelowe oor oorsprong …
ons onskuld “wat bederwe het”;
die suigeling:
Hiér is ’n hersenskim wat geswagtel
soos ’n lugskip
bo ons bly swewe
(al die wyshede soos dooie mummies)
waaruit gevaarlike seëninge soos vonke neerstuif
op die selfverkniesende, selfhonende
struikelendes,
wat vergeet het hoe vér hulle
sedert die begin gehink het.
Dié sweef-ark sal uiteindelik
self in ’n wind van vlamme
wankelend
op die aarde kom hurk,
nes ’n koningsvark wat uit die lug geskiet word;
want gelapte lugvervoer
uit toeka se ideëryk
is die opslaan van die kykbolle
en die deurstamp van knievelle op klipgrond
nie langer werd nie.
Ter illustrasie,
goeie leser;
die jaar nul soos opgevoer in
sê maar ’n hout-colosseum
in Arkadië op ʼn prille Speledag.
Elkeen het opgedaag as almal.
En die god wat vereer word
se deug is selfloosheid –
vandaar die feit dat hy afwesig is.
In die sand-arena kap ’n manskap
’n ander een se kop af.
“ ’n Lieflike daad!” kraai iemand.
(Sonder ego is daar ook geen pyn
óf haat nie.) En weens die perkeloosheid van gelykheid
deurboor ’n bontgeklede lakei,
miskien die koning self, se bamboesspies die mooiste
koorvrou, hoewel hy na ’n merrie gemik het. ’n Papegaai
gaan sit per ongeluk op ’n tere assegaai
want hy voel vere; toe doen
almal dit met groot, onderdrukte lawaai.
“Lank lewe Afrika, al die lieflike dade!”
(Ander kontinente is ewe pertinent.)
En so gepraat van babas, elke klein
oorsprongetjie-wat-aanmeld-aan-sy-leiband:
Dié was daar op die offeraltaar,
weens die oorskot natuurlik, terwyl nuwes
reeds gebaar word in die skavot van ’n pawiljoen.
Die éintlike skade was die hoogtepunt van alles
(wat niks anders as ’n prestasie was
nie en die begin van groot teater):
Onder groot applous kom almal die arena binnegestap,
vermom as ’n ander sodat elk ’n maat
kon aansien as sy eie self – en weens
godgeskapenes se baatlose aard
sigself ter plaatse (vir die pret) kon vermoor.
Die naatlose flousbaarheid het egter beskik:
Niemand was oor om die fout te besef nie.
En só is die moderniteit uit die oudheid
gebore.
Vir die wis en die onwis
bring dit ons by Jesus.
Hy kom nie in die stal te Bethlehem aan nie
maar nader ons uit die toekoms
deur ’n ruimteteleskoop:
Agter die groot weerkaatsende erkervenster
van ’n piering se hoë uitkykkap
staan hy en loods ’n blye tyding.
Natuurlik is daar strooi aan boord
siende iemand dit, uit gewoonte, moet praat.
En ’n bemanningslid wat eens onbuigsaam was
is so mak soos ’n lammetjie in ʼn Kerskonsert.
Ek moet sê,
die fyn gewikte maneuver
van hoe hy die gedagtemasjien laat sak het
soos ’n maan
in daardie boom –
wit soos wittebrood;
lig takties, die triomferende bruid –
dít het my beïndruk.
Toe vertrek die wit weer,
sag soos ’n skuit.
En die nag stroom aaneen, oor alles heen.
Sonderling en elektries het ’n boomgelaat
deur ’n ligsluier gepols!
Miskien kon dit nét
uit ’n droom gekom het?
Onvergeetlik om te aanskou:
hoe een boom se wegstaan uit die amorfe nag
die hele wêreld se bome onthou.
(Uit: Naudé, Charl-Pierre. 2014. Al die lieflike dade. Kaapstad: Tafelberg.)