Marlise Joubert. Collage

collage

[resettle –  jean dreyer

collage gedruk op argiefpapier as deel I van ‘n diptiek

in die uitstalling burnt white / brandwit, 28 by 28 cm]

 

herfs kom woon

in haar verwonde land

dans rimpelend collages oor die huid

van lewe na dood, van “ek na oop”

 

*

 

gesigloos is die eggospel met ander:

 

hier is sy aljimmers die verbeelde

mensvrouding, verberg onder ʼn rok

van sellofaan, asof verbind

aan ʼn dun omspieëlde vel

 

seisoene kan genadeloos spin

die sirkelgang ontswart

ook onverwags vir jou

die doodsrok bring

 

*

 

sy het haarself nog nie verlaat nie

haar bors is asem haar oë loop

vogtig oral rond, sy ontlaag

haar eie middelpunt

 

om die as draai die jare voort

sy is begrens en word ontgrens

soos ‘n brandwit bruid

met haar sleepgang verslete

al hoe verder aan

 

spilpunt dus – versluiering

en eensaam soos dit is

vir elke vrou

 

 

[co. marlise joubert / 2021]

Bookmark and Share

Comments are closed.