Met apologie
Verlede jaar 1 Mei het Nkosazana Dlamini-Zuma aangekondig ons mog tussen 6 en 9 soggens oefen. Na ’n paar weke van strawwe inperking was dit welkome nuus en die strate het gewemel van drawwers en stappers, selfs dié wat nooit voorheen gestap het nie. Die vanselfsprekende was nie meer so vanselfsprekend nie – vryheid van beweging is opnuut met waardering begroet. ’n Eenvoudige, alledaagse aktiwiteit soos om met ’n hond te gaan stap, het inderdaad nuwe betekenis gekry.
Die een wat ek die meeste vrees
Soos ek en Eddy, my Newfoundland elke dag stap, leer ek gaandeweg die sweethearts en die gewoontemisdadigers ken. Die sweethearts is die honde wat huil en bewe as hulle ons sien aankom. (En ons kom in vrede.) Die vrou van eenheid 1002 met die Pekinees met die snotneusie en vreesbevange ogies. Of die Toy Pom, die ontploffing wol met die cartoon-gesiggie; of die Basset by nommer 8 wat in slow motion sy eienaar se tuin verwoes. Die houtkampies rondom die blombeddings is flenters. Die hond skoffel al die plante uit en sy láng ore trek vore in die grond.
Die gewoontemisdadigers is ’n ander saak. Heel bo aan die lys is die estate se katte: uitgevrete diere wat op die mure sit en dommel en nie ’n snor verroer as hulle ’n muis of voël gewaar nie. Nee, die katte verteenwoordig suburbia en leef van Whiskas, tuna en white privilege. Kyk, ek weet ’n kat is ’n arrogante wese, maar sowat van territoriaal en uittartend het ek nog nie teëgekom nie. Die katte weet die honde is aan leirieme en daarom skadeloos. Ek praat nou van daardie grys kat met die wit sokkies – as hy ons sien, pof hy homself boggelrug en versper die paadjie. Hy wag. En ek halt, oorbluf; weet die kat gaan sy wil teen myne toets. Eddy, die Grootseun (wat 57 kg weeg) begin soos ’n wolf te ween. Ek voel innig jammer vir hom, want hy verstaan nie aggressie nie, net liefde en compassion. Hy het dan vandag spesiaal sy geel bandana met die vredesteken aan… En dáár staan ons: die kat se pupille is skaars twee strepies in die winterson, doodkalm.
Ek swaai my arms en skop bolle wind, maar die kat sluip ’n aks nader en ek vermoed ’n kaphou met venynige naels is net ’n oogwink weg.
“Voertsek,” sê ek.
Geen reaksie.
Ek dink aan nog f-woorde om hom te verwilder – daardie frikatiewes wat so lekker oor die onderlip glip en binne sekondes staan ek en die kat vir mekaar en sis.
Uiteindelik spat hy weg, die bosse in, oënskynlik verveeld met die speletjie.
Ons stap aan, diep gekrenk, en ek dink aan ’n plan.
Die volgende oggend 9:00 wag ek voor Fruit & Veg se deur en koop ’n groot boks komkommers. ’n Kat is doodbang vir ’n komkommer: dit herinner aan ’n slang.
Ek ryg die komkommers in ’n groot sling bag, tot die tande toe bewapen met die teenoffensief.
Die eerste boosdoener wat vlug, is ’n swart kat – hy sweef pffff soos batman oor die muur. Voila! Én die gemmerkat. Én die Burmaan met die nors gesig. Én die kamoe-kat met die vlekke soos ’n jagluiperd.
Al die katte neem die wyk en ek stap die hele landgoed vol soos die Queen of Wands. Natuurlik maak ek seker dat niemand my sien nie (en hier moet ek byvoeg dat ek ontdek dat ek latente talente as kulkunstenaar het).
Dieselfde aand lees ek op die landgoed se Facebook-blad dat die inwoners nuuskierig – en hoogs bekommerd – begin gis oor al die komkommers wat so in die stegies lê. Common sense is not a common ability. Niemand kan die raaisel oplos nie. ’n Trustee fluister dat dit dalk dui op die toename van okkultiese aktiwiteit op die landgoed … en ek smile skelm, want daar’s nog báie komkommers in my boks. Tipies. Wanneer mense iets nie verstaan nie, verdoem hulle dit gewoonlik. Maar niemand merk dat daar na dese geen kat meer buite is nie; dat almal binnenshuis verkeer …
En die ánder gewoontemisdadigers? Dit is deur die bank kleinerige honde. Eintlik funksioneer die landgoed soos ’n mikrokosmos van die samelewing: die klein hondjies is die opstokers wat die commotion veroorsaak. Groot honde weet hulle is die alfas, net soos die top dogs in die samelewing oorgaan tot aksie omdat die keffende gepeupel die sein deurgee om so te doen. Daar is daai jong ou wat met sy bulldog gaan draf – die bulldog het ’n stel ondertande soos Gwede Mantashe. Ek skrik my boeglam toe die swetende drawwer en hond skielik om die hoek verskyn, die skerp gehyg van asem en ek en Eddy verdwyn in ’n opgedroogde stormwatersloot. Ek weet instinktief dat daai hond my wil byt. Nóg ’n gewoontemisdadiger is die Scottish terrier met sy bell bottoms en boerebaard wat ’n hond uit ’n bos blaf as hy ons sien. Sy eienaar is bejaard en ek sidder, want ek vermoed die oom is nie sterk genoeg om sy kwaai woelwater te beheer nie. ’n Terrier, enige terrier, is ’n gebore booswig. Hulle is per slot van sake geteel om klein diere te jag en ek begin te wonder oor die verwantskap tussen die woorde “terrier” en “terror”. Sien, as jy met ’n groot hond gaan stap, gluur jou medestappers jou beskuldigend aan; draai uit, gee voorrang aan die klein brakkies. Groot honde word outomaties gebrandmerk as gevaarlik, en wat ’n mite is dit nie! Size matters. Dis ’n wet van die natuur – en, lyk dit my, van suburbia. (Op hierdie noot: ek lys die Britse breeder met haar Great Dane, so vaartbelyn en lig op sy pote, ook as ’n sweetheart. En daardie Schnauzer met ’n profiel soos ’n drilsersant, is definitief ’n gewoontemisdadiger.)
Om konflik te vermy, loop ek en Eddy dus groot dele deur die bosse en die dor wetlands waar hy stilstaan, been lig, en die plante verryk met stikstof. Stinkblaar groei welig en bars in malpitte oop. By tye kies ons koers na die parkie. Jy sien nooit ’n ongelukkige hond in die park nie; hulle hardloop rond, uitgelate met wapperende pienk tonge en sterte soos uitroeptekens. Honde wat vry rondloop, is nie veglustig nie.
Ek ontdek toe mos eendag hierdie lekker honde-treat. Bare Bites. 100% all natural dehydrated beef liver. Lewerbiltong, met ander woorde. Ek druk ’n paar stukkies in my leerbaadjie se sak om Eddy te beloon vir sy dissipline en goeie gedrag … maar o, die reuk! Die beeslewer stink soos iets uit die hel, maar ou Grootseun kwyl.
Dit was ’n taktiese fout.
Hy konsentreer nie op sy lesse nie – sy oë bly koeëlrond gefikseer op my baadjiesak. Dus stap ons net, ek en die reusedier wat kort-kort teen my bobeen stamp. Sy snoet traan van lus.
En die hemelse geur het die ander honde ook bereik.
’n Pitbull volg ons spoor en my rug trek hol van vrees, maar dis ’n vriendelike hond. Ek kyk. En ek kyk weer. Ja, wragtig! Die hond lyk op ’n druppel soos Devon Hofmeyr! Of is dit nou andersom …
Nóg ’n hond begin saam te draf, so ‘n vuilbaard met dik modderpote en ’n spul onbekende bloedlyne. Sy meeloper, of pel is ’n Jack Russel met sy kenmerkend gespierde lyfie. Twee gangsters, ja. Opportunisties, maar nie gevaarlik nie.
Uit die bloute verskyn ’n Franse poedel met haar lang bene en sexy stappie.
En uit al vier windrigtings peul daar nog honde. ’n Collie. ’n Boxer. ’n Foksie. ’n Worshond. Die meeste pavement specials het Foksterrier-bloed, onthou ek skielik.
Soos ’n herder uittrek met sy skape loop ek met al die honde agter my aan – en dink by myselwers dís hoe dit voel om ’n glimpie van die hemel te kry. Die beeslewer is nog geurig en geheim in my binnesak.
“Haai,” groet ’n vrou my in die verbygaan. En: “Jy het darem ’n slag met honde!”
“Ag, dankie, man, ja … jy is heeltemal reg,” glimlag ek erkentlik en kyk na die skare laggende hondegesigte om my.
Af en toe hap hulle geniepsig na mekaar, maar dis in geheel ’n vreedsame prosessie. Een broederskap, één doelwit.
Die volgende oomblik hoor ek ’n gil. Daar is net een hond wat presies soos ’n mens kan gil.
’n Yorkshire terrier, reun, storm nader – en jy sien net graspolle trek. Hy is verskriklik klein. Hy rev agtertoe en weer vorentoe en bars dan uit in bewerasies en bravade. Ek kyk verbyster na die dingetjie met die opgetrekte bolip en tandjies wat nie meer skade as ’n stapler kan doen nie. Dan vang my oog die letters op sy truitjie: EVERYDAY FIGHT.
Dis ’n Yorkie, die mees onverskrokke van almal en wat, soos altyd, sy size heeltemal oorskat. Hy wil nie saamloop nie; nee; hy wil die ander uitdaag.
Ek moet vinnig speel. Met my regterhand gryp ek Eddy se halsband vas en met my linkerhand slinger ek die bare bites uit my sak en gee vet – doof vir die kakofonie van ’n geblaf en geknor en klappende tande wat wegraak in die wind.
Voor ek vergeet. ’n Yorkshire terrier is die hond wat ek die heel meeste vrees.
*
Om met ’n hond te gaan stap, bevat ’n speelse element: dis pret, en by tye skreeusnaaks. Dit is geen wonder dat Opperman juis die weduwee Viljee se wandeling met haar kolliehonde gekies het om deur middel van parodie die stylhebbelikhede in ánders digters se werk uit te wys nie. Heel tong-in-die-kies, natuurlik.
Met apologie
TEKS:
Op ’n Sondagmiddag loop die weduwee Viljee
in swart geklee
met twee kolliehonde langs die see.
C.M. VAN DEN HEEVER:
O skemervloeiing van die najaarsee!
Jou Sondagende branders plooi en val
en langs twee meeue dwaal ek geweduwee
maar ewig ruis om my die Al.
I.D. DU PLESSIS:
My twee windhonde draf
soos fezze langs die see;
ek vra Ali en Allah af
waar is meneer Viljee?
W.E.G. LOUW:
Droef kyk my oë
deur die trane heen,
soos amandelbloeisels
deur die eerste reën;
ek rou oor die duine,
my bleek hande waai,
en ’n hond byt sy stert, soos hy draai, soos hy draai …
N.P. VAN WYK LOUW I:
O God! làngs U skríklike water
stap die weduwee Viljee
met dié weet: die waan en die waansin word later
twee honde wat dráf waar sy trèe.
N.P. VAN WYK LOUW II:
Op ’n Sabbatmiddag
(die dag is goed)
lê la veuve de Villiers
die heilige snol
bo die boulevard
(a) aars-e-lende om te kies
effens be-swaard
tussen twee kol-lies(te)
UYS KRIGE:
O wee,
o wee,
in swart geklee
op ’n Sondagmiddag
loop die we-
duwee
Viljee
met twee,
net twee
kolliehonde langs die see,
die see,
die see …
ELISABETH EYBERS:
Portret van ’n weduwee
Sy staar na die blou are op haar hand
terwyl sy in die Sondagmiddag wat
neerskyn op die rustelose strand,
geduldig sit of loop en peins: Nou dat
die vreemde bloeisel van herinnering
– skaars liefde, skaars geluk – nog vir haar bly
sal sy uit hierdie aardse wisseling
en haar verlies tog weer die sterkte kry.
.
So het sy klaarheid in haar gees gevind
en so geweet die middag langs die see
sy sal aan die twee kinders wat haar bind
haar hele lewe wy as weduwee;
en word sy later weer deur een gevra
wat sal sy vir hom antwoord: Nee of Ja?
ERNST VAN HEERDEN:
In lanferwimpels tree,
haar wandelstok ’n swaard,
die weduwee Viljee
in grandiose vaart
verby die sinderende kaai.
Waarheen die bruingepeesde spiere,
die slink en wulpse draai
van haar kaniene diere?
S.J. PRETORIUS:
O Here! Ek word so opgewonne
as ek die arme honne
so kaalpoot sien draf,
maar wat kan ek, we-
duwee Viljee,
doen met my pullover en staf?
Verwysing:
- Hugo: “Met apologie” uit Speelse verse, 1988. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers.
Dankie vir die gawe kommentare!
Nini, ek het dit nou so geniet! Voorwaar jy kén die hondespesie tot in die murg.
Haha! Geen apologie benodig!
Oo, die honde stories is uniek. Baie lekker gelees en saam gelag. Ek ken ook daardie Yorkshire blaf en houding met opskop en uitdaag.
Ek het ewe lekker gelag! Dankie, Nini.
Gewoonlik glimlag die uwe net ligweg, maar hierdie vertelling het my hardop laat skater!