Ingrid Jonker-prys: Wenner

Media-uitreiking

 

Wenner van die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie vir 2021

Die wenner van die Ingrid Jonker-prys vir 2021 is pas aangekondig. Dis is Ryan Pedro vir sy bundel Pienk ceramic-hondjies (uitgegee deur Kwela). Die ander digters op die kortlys was (alfabeties volgens van) Lynthia Julius vir Uit die kroes (ook Kwela) en Gisela Ullyatt vir Die waarheid oor duiwe (Protea Boekhuis).

 

Ryan Pedro se bundel

In hul verslae het die beoordelaars groot lof vir Pedro se debuut en bestempel hulle dit as ʼn “kragtige” en “indrukwekkende” bundel deur ’n “vernuftige digter” met “sterk talent”. Pedro se praatverse bied ʼn skerp beligte blik op ʼn wêreld waar geweld binne en buite die huis alledaags is en waar vertoon noodsaaklik is vir selfbeskerming. Die “ontboesemende blikke” op die self in byvoorbeeld die openingsvers, “portret van ʼn coloured laitie as ʼn mixtape”, gee ʼn doelbewuste aanduiding van die digter se identiteit en kunstenaarskap. Hy bevind hom in ʼn wêreld waar onreg en rassisme histories en sistemies is, waar algemene wantroue geregverdig is en waar armoede deel van byna almal se realiteit is. Hiermee saam gaan emosionele geweld deur vernedering, aggressie, bespotting en verwerping.

Dit is veral die aanbod van die manlike kode in die bundel wat die aandag trek en vernuwing bewerkstellig, skryf een van die beoordelaars. Dit is ʼn volgehoue gesprek met die pa, maar ook die ooms, die uitgebreide manlike familielede, nefies en die wit tjommies. Dit vertel die verhaal van die jong seun se inlywing in die manlike sosiale orde, soos wat dit veral in die slotgedig, “by die barbershop”, tot uiting kom. Dit lewer terselfdertyd kommentaar op die wyse waarop seuns grootgemaak en blootgestel word aan die rolmodelle van die volwasse mans in die samelewing, met gewelddadige ondertone wat deurlopend aanwesig is. Deur middel van die argelose en gelate wyse waarop geweld deur die ek-verteller verwoord en aanvaar word, lewer die digter sterk kommentaar op die skynbare normalisering daarvan in die samelewing. Terselfdertyd word die poëtiese aanbod juis die klankbaan om die geraas van geweld stil te maak.

Die bewustelike benadering tot poësieskryf kry gestalte in die struktuur van die bundel, wat ooreenkomste toon met ʼn musiekalbum: Daar is ʼn “side a”, ʼn “side b”, “interludes & leaks” en ʼn “bonus joint”. Dit is in die besonder die “mixtape”, ʼn samestelling van los komponente, wat Pedro aanwend as bewustelike bindingstrategie en wat patrone, temas en sentrale gedagtes belig en uit verskillende hoeke blootlê. Die verwysings na musiek, veral na hiphop en rap, word deel van ʼn intertekstuele spel wat bydra tot ʼn verdere gelaagdheid met eksterne stemme wat besin oor ras, klas, sosiale toestande en die sin wat die (jong) individu van al dié dinge moet maak.

Die manier waarop Pedro die honde-motief in die bundel hanteer, is een van die flinkste aanduidings van ’n digter wat bewustelik aan die werk is. Die titelgedig verwys, soos die voorbladfoto, na die skoonheid en broosheid van keramiek-ornamente – in dié geval die ornamente wat uncle Lionel een aand toe hy dronk by die huis aankom, stukkend skop en vra “wat maak dié fokkien honne in my fokkien hys?”. Dié woede en wrewel skakel met die polisiebrutaliteit van vroeër tydens ʼn voorval by UWK, en verder nog rassevooroordeel wat oorspoel na Kapitaal, die hond wat maar net nie van wit mense hou nie. Aan die einde van die bundel word die lyn van honde-beelde – van broos tot hoopvol – volgehou in dié woorde van The Game featuring 50 Cent: “Hate it or leave it, the underdog’s on top / and I’m gon’ shine, homie, until my heart stop / Go ‘head envy me.”

Pedro se Pienk ceramic-hondjies is ʼn bundel wat rekening hou met die vergrype van die verlede, maar terselfdertyd ʼn nuwe koers inslaan. Die digterspersona is soos die keramiek in die titel: “hardgebak maar broos”. Hy skaar hom by ʼn geslag wat “kreatief omgaan met protes teen ʼn gemeenskap waarin hulle hul ontheemd voel, kieskeurig meedoen aan die verbruikerskultuur, ʼn eie identiteit smee en agentskap opeis”. Die digter orden die ervarings van armoede, ontbering, onreg, geweld en rassisme in gestroopte verse, met ʼn voorkeur vir die juisste woord en met ’n trefkrag wat die leser onkant betrap en wat veral in die slotte “uitklophoue plant”.

 

Lynthia Julius se bundel

Wat Lynthia Julius se Uit die kroes betref, word melding gemaak van aangrypende verse. Dit is veral die portrette van vroue en in haar gebruik van taal wat klink waarmee sy bydra tot die Afrikaanse letterkunde, meen een van die beoordelaars. ’n Ander skryf: “Julius se stem is onmiskenbaar ’n vrouestem, eietyds, sterk, onverskonend.” Die digter skryf oor haar Nama-afkoms, maar ook verder terug, van slawe en arbeiders wat sonder keuses lewe. Die openingsgedig neem die historiese gegewe van ’n slavin wat haar baba vermoor en selfdood gepleeg het en skets haar laaste oomblikke “met onmiddellikheid en erbarming”. Dit stel ook ’n aantal motiewe bekend: selfdood en protes teen onreg, ook teen gevestigde beskouings wat sy – Julius én die slavin – nie bereid is om passief te aanvaar nie. Die digter skryf ook oor waar sy haar in die hede bevind: in ’n komplekse en dikwels pynlike oorgang tussen haar persoonlike wortels, haar ma en tantes wat in ’n patriargale stelsel swaarkry maar tuis voel, en ’n nuwe wêreld as universiteitstudent met nuwe, moeilike verhoudings waar die oorblyfsels van taboes nog spook, maar “waar sy vasbeslote is om haar eie voorwaardes te bepaal en haar eie rol te smee”.

 

Gisela Ullyat se bundel

Gisela Ullyatt se Die waarheid oor duiwe word as ’n sterk, volwasse en deurgekomponeerde bundel bestempel, met kortstondigheid, verlies en sterflikheid as temas en met – aldus een van die beoordelaars – “pynlik mooi verse”. Die ander beoordelaars maak melding van die beeldrykheid en veelvlakkigheid; die wye verwysingsraamwerk (onder meer Bybelse en Boeddhistiese verwysings); die sorgvuldige vakmanskap en die deeglike afwerking. Talle gedigte het ‘n “tydlose kwaliteit”. Duiwe, wat aanvanklik as simbool van hoop en van die magiese aangebied word, wat die spreker-digter laat “gloei”, word uiteindelik “duiwe van ’n ander kleur”: die metafisiese draers van dood en verganklikheid. Ullyatt gee aan die spreker-digter se naderende dood “’n onmiddellikheid wat diep ontroer”. Terselfdertyd skep sy dikwels ’n onsentimentele afstand tussen die subjek en die dood. Die gedigte in die siekte- en hospitaalafdeling (afdeling twee) werp ’n intense blik op die weerloosheid en vervreemding van die pasiënt en “die ritualistiese en verontmenslikte wêreld” van die medisyne. Hierdie gedigte is besonder sterk en tref met hul gestroopte eenvoud en dikwels ontnugterende slotreëls.

 

Beoordelaars, komitee en prysgeld

Die Ingrid Jonker-prys word jaarliks beurtelings toegeken aan ʼn Afrikaanse of ʼn Engelse debuutdigbundel. Vyftien digbundels is vanjaar ingestuur. Sowel die beoordelaars as die komiteelede is vrywilligers. Die beoordelaars was die digters Corné Coetzee, Johan Myburg en Susan Smith. Die komiteelede is Ronel de Goede (sameroeper), Vincent Oliphant en Marius Crous; Danie Marais (vorige sameroeper) tree as adviseur op. Die prys word in September by die Tuin van Digters in Wellington oorhandig. Die prysgeld van R10 000 is ʼn gewaardeerde skenking deur die Dagbreek Trust. Die Protea Boekwinkel in Stellenbosch het as ontvangspunt vir die bundels gedien.

Bookmark and Share

Comments are closed.