Resensie: Raka (N.P. van Wyk Louw, in Engels vert. deur Iván Kovács)

 

 

 

N.P. van Wyk Louw: Raka. Uit Afrikaans in Engels vertaal deur Iván Kovács. Naledi, 2021.

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Oor vertalings is die afgelope tyd geweldig baie geskryf. Van ‘n vertaler wat beweer hy vertaal sonder om presies te weet wat hy vertaal tot ‘n vertaler wat elke besluit verduidelik.

Wanneer een digter ‘n ander digter vertaal, verwag die leser nie noodwendig ‘n stuk teorie nie, maar ten minste ‘n besinning oor watter keuses gemaak is. Is daar uit die oorspronklike taal vertaal (Spaans, Frans, Duits, Russies …) of het die digter gewoon gekyk na ander vertalings in Engels. Die bronteks moet egter altyd ten minste geraadpleeg word. Nie dat dit noodwendig ‘n goeie vertaling waarborg nie.

D.M. Thomas het Anna Akmatova uit die Russies vertaal na Engels en daar is al vergelykings gedoen oor verskillende vertalings van hierdie digter. George L. Kline se belangrike studie vergelyk tien Engelse en tien Amerikaanse vertalings. In die formele digkuns moet die metriese patrone en rymskemas gevolg word, meen hy tereg. Hy praat van die sogenaamde “verse integrity”.

https://www.jstor.org/stable/308546?seq=1#metadata_info_tab_contents Besoek 23 Junie 2021

Dus wil dit lyk asof die geslaagde vertaling eis dat die vertaler ook iets van die oorspronklike digter se ratwerk (en hartwerk) moet begryp.

Uys Krige se vertalings van Spaanse digters oorrompel die leser, omdat hy die oorspronklike Spaans bemeester het en meesterlik kon oordra na Afrikaans. So het Neruda die eerste keer hier by ons aangekom. Met die coplas. Hierna was dit De Waal Venter se beurt met Vandag is boordensvol (2019).

https://joanhambidge.blogspot.com/2019/08/resensie-de-waal-venter-vandag-is.html Besoek 22 Junie 2021

 

II

N.P. van Wyk Louw se Raka is ‘n klassieke teks. En enige vertaling is tersaaklik, omdat dit ‘n digter laat reis na ‘n ander bestemming. Maar reis, dit weet ons almal, is nie sonder beslommernis of probleme nie.

Jy behoef ‘n visum na die vreemde land (met ander woorde, is jou taalvaardigheid goed); genoeg kapitaal (en hier kom die simboliese aspek ter sprake: het jy die “currency” om die digter se teniek soos ryme, klank, metriese patrone oor te dra); het jy al die medikasie geneem (met ander woorde het jy ander se vertalings of oorsigte oor die werk gelees); het jy blyplek (is die regte uitgewershuis en kenners gekies) en is jou vlug terug bespreek?

En so kan ons aanhou.

 

II

So word die bundel bemark deur Naledi:

New translation by Iván Kovács

  • N. P. van Wyk Louw’s Raka is probably his best-known and most beautiful poetic creation. It has inspired musical compositions, radio plays as well as a ballet. It has also been widely distributed as a prescribed work for high school and university students who study Afrikaans. Raka has previously been translated into English, German, Zulu, Sotho and Xhosa.
    • 2020 was the year which commemorated the 50th anniversary of N. P. van Wyk Louw’s death. It was celebrated countrywide with various talks and shows, often with special references to Raka, and how this South African epic could be reinterpreted by contemporary readers and critics.
    • Raka is the story of an African tribe which is threatened by the appearance of Raka “the ape-man”, he “who cannot think” and who is “more than animal, but less than human”. He is both feared and admired by the people of the tribe, because of his physical allure and strength. It is only Koki, the young prince, “he (who) would always be alone among them with his fear for precious things” who realizes the threat that Raka poses to the culture and survival of his tribe. Sadly, his appeal to his people to kill Raka falls on deaf ears.
    • The responsibility to remove the threat clearly becomes no one else’s task but Koki’s. So, Koki meticulously prepares himself to meet his foe, but when he sets out in search for Raka, it is not the war song of his tribe that he sings, but its death song. This is a clear indication to the reader that a great tragedy is about to play out.
    • Raka’s enduring appeal lies above all in Van Wyk Louw’s exquisite and evocative description of the African landscape, the daily activities and rich cultural heritage of the tribe, and the tragic existential confrontation between Koki and Raka and the world views and values that they each represent.

Cover painting by internationally renowned artist Schalk van der Merwe (www.svdmstudio.com)

 

III

Inderdaad, maar gee asseblief die name van die vertalers in die ander tale. En wanneer het hierdie gedig verskyn? Dis immers belangrik! (En al hierdie besware word voor die deur van die uitgewershuis gelê wat hierdie kwessies moes aanspreek.)

Hierdie epos het in 1941 verskyn en problematiseer die verhouding tussen geestelike en dierlike.

Verder is dit ook belangrik om te kyk na hierdie datum en die betekenis van 1941. Ek het driejaar terug hierdie epos behandel (saam met Opperman se Joernaal van Jorik) met ‘n derdejaarklas en hul reaksie op die gedig was openbarend. Wit en bruin het dit as uitmuntend en pakkend ervaar weens die groot stryd bekend aan die epos; maar veral om die tegniese beheer van Louw.

As jong kind het ons die gekuiste skooluitgawe as voorgeskrewe werk behandel in 1974, maar ieder en elk het presies geweet waar en hoekom dit gesny is met ‘n blosende juffrou, vars uit die RAU, wat stotter juis omdat die skoliere alles snap.

In Mattheus 5:22 – in die ou vertaling – word Raka gesien as ‘n kragwoord waarteen Jesus waarsku. In Grieks en Aramees is dit ‘n idioot of domkop. So word dit vandag vertaal:

 

MATTEUS 5:22 AFR83

Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur.

 

Brother without a cause shall be in danger of the judgment: and whosoever shall say to his brother, Raca, shall be in danger of the council: but whosoever shall say, Thou fool, shall be in danger of hell fire.

 

Hierdie ryk geskakeerde teks is al vasgemaak aan die politiek van die dag (Die WO II met Hitler; die Raka as die Kommunisme; die apartheidstryd en die rooi gevaar; vandag word Raka selfs ingespan om alle onsekerhede of gevare te verteenwoordig.) My Juffrou het gemeen dat Raka alles simboliseer wat kultuur ontken of ondermyn. Sy was immers ‘n student van F.I.J. van Rensburg, besef ek vandag.

Gaan kyk ook wat Danie Langner van die FAK alles raaksien:

https://maroelamedia.co.za/goeiegoed/stiltetyd/wie-is-raka/  Besoek 5 Julie 2021

 

IV

In die bekende glossarium van literêre terme word Raka dan vergelyk met Jorik as ‘n anti-held. Koki triomfeer eerder metafisies as fisies word daar tereg aangetoon. Raka sluit by die tradisionele epos aan, terwyl Opperman se Joernaal van Jorik bepaald moderner in aanbod is.

https://www.litterm.co.za/index.php/e/310-epos (Besoek 18 Junie 2021)

Die stichiese versvorm is iets wat verdere ondersoek behoef, met Louw se besondere hantering van die rym en metrum.

Raka is dan ‘n argetipiese verhaal wat wys op die ewige spanning tussen die goeie en die bose. Die grootsheid van die teks lê nie alleen opgesluit in die allamagtige digterlike beheer nie, maar ook in die feit dat die teks op soveel verskillende maniere gelees en geïnterpreteer kan word.

Tereg lees Kovács die teks in die inleiding as Jungiaans met Raka as Koki se skadu; of Freudiaans as die Id.

Hy open nuwe interpretasies vir die psigoanalitiese en spirituele leser róndom die kwessie van die mistisisme en stilte. Dus meer as die konvensionele Afrika-opposisies waaroor die ouer Afrikaanse letterkundiges geskryf het.

Daar is spaars verwysings na antieke filosofie waarop die vertaler miskien vérder kon uitgebrei het. Maar hy het bepaald ‘n deur oop gemaak …

 

V

In  Lawrence Venuti se terme word hierdie vertaling wéggestuur, eerder as huis toe gebring.

Die vertaler gee vir ons ‘n goeie vertaling van die gedig, maar hy bly in gebreke om die tegniese vorm te ewenaar soos die rympatrone en metrum. Venuti onderskei in The translator’s invisibility: A history of translation (1995) tussen die vertaling huis toe bring of wegstuur.

Hierdie vertaling stuur dan eerder wég sodat lesers wat nie Afrikaans magtig is nie, dit sal kan waardeer. Die kenner van die oerteks bekyk egter die volgende:

 

“en moeitevol getorring aan die taai knoop van sy gedagtes”

word

“as he tried laboriously to unravel the tight knot of his thoughts” (11, 12)

“versinsels’

word

“fabrications” (27, 28)

“Oor ‘n groen poel wat stil en dik / was van die bronslaai en die warm slik”

word

“In the tepid forenoon, Raka crouched / over a green pool, still and thick” (33,34)

Kanette word reeds (37, 38)

Skater word howled (41, 42)

Die vertaling van ‘n ander koors deur die wilde bloed word lomp vertaal. (53, 54)

Waar die digterlike implikasie nie werk nie, is veral met “Raka met sy apespring” (55) wat “with an apelike leap” en die metaforiese konstruksie ontken word.

Ons almal ken die pakkende slot wat nou so klink:

But no one dared to shut the narrow gate

And refuse him entry ever again.

 

Iván Kovács is ‘n Hongaar en die enorme harde werk van hierdie transportering moet vermeld word. Dit is ‘n letterlike vertaling wat ongelukkig nie die poëtiese vuur van die oorspronklike teks opvang nie. Maar dan: wie sou dit kon vermag?

 

Bookmark and Share

Comments are closed.