Pendoring-toekennings: Persverklaring

 

Pendoring-toekennings

Persverklaring

Sindikasiedatum: 2021/07/14

Media: https://www.dropbox.com/sh/o6mn5zn4zjyvwf4/AABlOYonxGGPBjvnluvDuTmha?dl=0

 

Pendoring e tjhunwa ke Hollard – inskrywings nou oop!

Die inskrywings vir die Pendoring 2021-toekennings is oop en dís wat jy moet weet:

Pendoring het ʼn nuwe hoofborg – Hollard. Welkom! “Die Pendorings is ʼn belangrike viering van die ryk diversiteit wat ons land uniek maak. Ons glo in die mag van hierdie diversiteit en omhels dit as deel van die uitleef van ons Doel: Om meer mense in staat te stel om ʼn beter toekoms te skep en te verseker. Ons is opgewonde om deel van hierdie wonderlike herskeppingsavontuur te wees,” sê Heidi Brauer, hoofbemarkingsbeampte van Hollard.

Pendoring se veldtog fokus hierdie jaar op die belangrikheid van die ontwikkeling van veeltaligheid in die samelewing. In ʼn land waar meer as 91% Suid-Afrikaners ʼn inheemse moedertaal het, word ons deur ʼn monokultuur van ons waardigheid en ryk kulturele hulpbronne gestroop ten einde internasionalisasie te bevorder. Think Creative Africa se vrouegeleide veldtog en die visuele kunstenaar Lady Skollie doen ʼn ernstige beroep dat moedertale en veeltaligheid op alle vlakke van die samelewing, van vroeë kinderontwikkeling tot die korporatiewe omgewing, toegepas word. Dié inisiatief word gesteun deur die VN se wêreldwye Dekade van Inheemse Tale wat in 2022 afskop.

“Waar ons 2022 en die begin van die Dekade van Inheemse Tale inwag, is dit met die oog op wat kán wees, en ʼn opregte optimisme dat Suid-Afrikaners die rykheid van ons 11 amptelike tale sal begin waardeer, sowel as die vermoë van daardie tale om ons te help om met nuwe oë na die wêreld te kyk,” vervolg Bauer.

Ons het weer na ons kategorieë en reëls gekyk en geringe aanpassings gemaak om sodoende vir die breër bemarkings- en kommunikasiegemeenskap ruimte te skep. Korporatiewe publikasies en jaarverslae, kortfilms, musiekvideo’s en dies meer kan nou vir die Pendoring-toekennings ingeskryf word – solank 70% van die werk in een van Suid-Afrika se tien inheemse tale gedoen word.

Eben Keun, hoofbestuurder van Pendoring, verduidelik: “Ons het woorde soos “kommersieel” uit filmkategorieë verwyder en ons het groter begin dink oor die definisie van “handelsmerk” deur individuele persone met ʼn openbare teenwoordigheid in te sluit. ʼn Musikant, byvoorbeeld, kan ʼn musiekvideo in ʼn inheemse taal inskryf; en ʼn inhoudskepper kan vir die Digitale Vaardighede – Skryf-kategorie inskryf, ens.”

Wat die Pendoring-toekennings so uniek maak, is die feit dat dit die enigste Suid-Afrikaanse kompetisie is wat substansiële kontantpryse uitloof vir skeppende werk in inheemse tale, nie net vir die algehele wenners nie, maar ook vir die goud- en silwerwenners in elke kategorie.

Die sperdatum vir inskrywings is 20 Augustus 2021. Sien www.pendoring.co.za vir inskrywingsbesonderhede en nuus oor ons studente- en besigheidseminare. Gaan hou ook van Pendoring se Facebook-blad (@PendoringAdvertisingAwards), of volg @Pendoring_ op Twitter of Instagram @pendoring_za

Pendoring, die platform wat land en bedryf inspan om die rykheid van Suid-Afrika se kreatiewe inhoud in inheemse tale te bevorder, te verenig en te vier. Onderskryf deur UNESCO (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie) #SpeakSouthAfrican

Redaksionele kontak: hello@pendoring.co.za

 

Bookmark and Share

Comments are closed.