Huldiging: Rosa Smit

 

 

 

In memoriam: Rosa Smit (1945-2021)

 

Die digter Rosa Smit is Dinsdagaand 20 Julie aan Covid-19 oorlede.

Smit, die dogter van die skrywer Jana Coetzee, is op 6 Mei 1945 op Alberton gebore. Nadat sy in 1963 gematrikuleer het, voltooi sy haar studies aan die Pretoria Onderwyskollege met Drama en Spraakopleiding as hoofvakke. Ná verdere studie aan die Universiteit van Suid-Afrika, asook Aletta Gericke se Akademie van Dramakuns en voordrag, het sy haar hand aan toneelspel gewaag. Smit was betrokke by verskeie amateurgroepe waaronder die Johannesburgse Toneelgeselskap. Sy was getroud met die digter Pieter Smit en twee seuns is uit die huwelik gebore.

As veelsydige kunstenaar het Smit radiowerk gedoen, spreekkore vir skole afgerig en haar eie skeppende skryfskool gestig. Sy was ook werksaam as die sekretaresse van die Afrikaanse Skrywerskring in die eertydse Transvaal. Haar belangstelling in kuns was die dryfveer om later self te begin skilder, en haar werk het groot aftrek geniet. By geleentheid het sy in die openbaar opgetree om haar gedigte voor te lees, onder meer by die Versindaba-poësiefees in Stellenbosch (2008) en die Afrikaanse Stemfees by die Huis vir Afrikaanse Poësie (2010) in Pretoria.

In 2002 het sy die drama Richmond geskryf en self die regie daarvan behartig vir die Kleinteater en Teaterhuisie.

Smit se oeuvre bestaan uit Krone van die narsing (1987), wat in 1989 met die Ingrid Jonker-Prys bekroon is. Haar debuut word opgevolg met Die begeleiding van duiwe (2008), asook Die rooi veer in Vasco se hoed (2013). Haar jongste digbundel, Die slingerplant se wintergroei (Naledi, 2021) sou binnekort bekendgestel word.

Die digter se verse het verskyn in Tydskrif vir Letterkunde, Groot Verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die braambos brand, Honderd jaar later, Versindaba 2008 en Die mooiste liefdesgedigte in Afrikaans.

Smit se poësie word gekenmerk deur die gebruik van Christelike tematiek, soos dit aansluiting vind by die oorlogsgeweld in die Midde-Ooste en waarin Israel in die brandpunt van die konflik staan; reis- en liefdesgedigte, asook verse wat teen ’n historiese agtergrond uitspeel. Sy het oor ’n sonderlinge vermoë beskik om skoonheid en geweld in balans te bring, en sal veral onthou word vir haar liriese aanslag en vindingryke gebruik van beeldspraak.

Die afgelope paar jaar het Smit ’n beduidende rol gespeel in Ian Raper se poësiewerkswinkel, Versklas, wat weekliks by die Huis van Afrikaanse Poësie aangebied is. Sy sal onthou word as nimlike figuur in haar persoonlike hoedanigheid, sowel as dié van mentor.

 

Die dansende Christus

 

Na ’n ikoon in die klooster “Rots van versoeking” in die Jordaanvallei

 

Klippe wou brood word

en jou pad wat strompelend

val en opstaan deur die erosiegeule

van die landskap,

waar wind vir veertig dae

in ander stemme praat,

het jou op ’n oggend tempelhoog gelei

en daarvandaan Jerusalem gewys,

maar jy het woorde soos krummels brood gestrooi

oor lig en water en elke ander deurlugtigheid

en toe rooigejurk, jou hemelblou mantel

argeloos oor jou bruin skouer oop geplooi

en soos ’n woestynbesie

hoog beginne raas

en dans,

knieë gebuig, gelig

gehuppel

en met elke sprong

versoeking triomfantelik

stof toe getrap.

 

Versindaba 2008, Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2008

 

Verwysing

https://af.wikipedia.org/wiki/Rosa_Smit

 

Nini Bennett

 

Bookmark and Share

Comments are closed.