Resensie: Hierdie Maandag is abstrak deur Anita van der Walt. Turksvy Publikasies, 2021.
Resensie: Nini Bennett
Turksvy Publikasies se jongste bundel is die debuut van die Kaapse dokter, Anita van der Walt. Met die eerste pandemiebundel, Maskers en Mure het die samestellers, Daniel Hugo en Francois de Jongh ’n belangrike leemte aangespreek deur ‘n tydsdokument te skep waarin 142 digters ’n stem gegee het aan Covid-19. Volgens dié jong uitgewery is daar ’n hele paar opwindende boeke, waaronder digbundels, in die pyplyn.
Van der Walt noem in ’n persverklaring dat Versindaba en die jaarlikse poësiefees, die Tuin van Digters, digkuns vir haar ontsluit het. Hierdie Maandag is abstrak is die resultaat van jare se werk aan ’n bundel.
Die verse neem die leser op ’n reis deur die digter se geliefde natuurplekke in Suid-Afrika, asook Italië, Nederland en die binnereise van afskeid, liefde en dood.
Die bundel is losweg in 12 dele gerubriseer. In die programgedig, “Afrika” (pp. 13-14) posisioneer die spreker haar as kind van Afrika. Die vers gee in kwashale ’n oorsig oor Suid-Afrika met verwysing na fossielvondse (“kraterwieg”, oftewel die Wieg van die Mensdom), die historiese Distrik Ses en gepaardgaande gewelddadige verwydering van mense, asook die Voëlvry-beweging en Mandela se vrylating. Die Sterkfontein-grotte in strofe een skakel met die ontwikkeling van “Sterkstroom se geboortekanaal” in die tweedelaaste strofe. Hierdie vers, as historiese opgaaf, sluit aan by die tweedelaaste slotvers, “Nag, Ma” (p. 114), waarin die gedigsiklus in vroulike metafore voltrek word.
Besinnings oor fauna en flora kom voor: die reisiger-digter staan stil by plekke van persoonlike betekenis. Die verse herinner aan Bildungsreise, oftewel reise wat die self opvoed of verryk.
Die geslaagde kwatryn, “Ooitjie” (p. 21) bevestig die digter se behendigheid met die vaste versvorm, soos die latere tankas en haikoes in die bundel ook toon. Die sterkste gedigte in die bundel is die spreker se meer eksakte waarnemings, soos “Rakelings” (p. 22), of die daaropvolgende “Wolwehuis” (p. 23) wat ’n visuele voorstelling gee van die gekronkelde grondpad se klein ekosisteem. Hierdie verse, wat steun op waarneming, is vry van die hinderlike digterlike clichés wat volop in die meer nostalgiese verse voorkom.
“Vaalwater” (p. 25), met die Bybels-geïmpliseerde melk en heuning, verras wanneer die enigste stortingsterrein vir kernafval, Vaalputs se aardkors “melkwit borrel”. Die geomorfes is aktief, alhoewel dit bekend is dat hier geen aardskuddings voorkom nie. Die refrein, “hierdie kolostrum proe heuningsoet” besing enersyds die vrugbaarheid van hierdie terrein, andersyds dien dit as waarskuwing dat die aardoppervlak híér dalk juis onstabiel is. Enkele verse dra kenmerke van pastorale poësie, byvoorbeeld “Joy of my soul” (p. 24), ’n Karoolandskapvers wat met sy versugting van versadiging en dromerige kwaliteit resoneer met Bach se gelyknamige koraalwerk. Die opeenvolgende “Huisdans” (p. 26) en “Reënverse uit die Klein-Karoo” (p. 27) ontroer in hul aardsheid; die landskap word hiperkonkreet en tasbaar verbeeld en skep ’n sinvolle oorgang tussen fisiese en psigiese ruimtes.
Die tweede gedeelte, “Italië”, herinner aan die inleiding van Breytenbach se bundel, nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde: “Die ware landskap is een van rus.” Die verse is afgestem op die visuele, byvoorbeeld in “Stiltetyd” (p. 32) versmelt die belewenis van reis met die “vasvang van ’n skildery”. Hierdie deel, met sy magiese, mitologiese en historiese verwysings, sorg vir ’n welkome respyt tussen die Afrika-plekgedigte. “Kyk is verniet” (p. 35) se meerduidige visuele aanbod knoop ’n spel aan met die leser: daar is ’n dubbellensfokalisator – die swaan én spreker – teenwoordig in die gedig, wat die leser uitdaag om (steeds) te kyk.
In die volgende gedeelte, “Hartstog” skryf die digter verse waarin poëtiese taal die bestekopname van herinnering vorm. So byvoorbeeld is “Suikerbekkiesoet” (p. 40) ’n uitasem, crescendo-agtige vers wat met die vaart van enjamberende versreëls die simultaniëteit van sinestesie in die hand werk:
[…]
’n vetplant bloedrooi bloos
in aalwyn se oggendblos
pelargonium ruik saans
na kaneel, vanielje-orgidee
die Perlemoenskoenlapper flans
’n stille melodie saam
[…]
sowaar, dié palet pas
“Vir altyd” (p. 42) besing die idille van ’n plaasopstal. Hierdie binneruimte aktiveer ook ’n dagdroom van saligheid en herinner aan Gaston Bachelard se sienings van ’n huis in sy ikoniese The Poetics of Space: “I should say: the house shelters day-dreaming, the house protects the dreamer, the house allows one to dream in peace. […] Daydream transports the dreamer outside the immediate world that bears the mark of infinity.”
Die laaste strofe:
[…]
Mag die klapperhaarmatras se holte pas.
Die volmaan helder waghou
en jou huis stewig op stelte staan
die raku van gekraakte pleister sag lispel
dat geluk deurgaans skemertyd haal.
Die vierde gedeelte, “’n Mondvol” handel oor die sensoriese sensasies van kos, en ’n twaalftal tankas kom voor. In “Bek-af” (p. 45) word vrugbare grond as lewende organisme met kosmologiese assosiasies voorgestel. Met “Tankas uit die Tankwa” (pp. 47-49) wys die digter haar slag met ’n dosyn gedigte in dié eeu-oue Japannese digvorm. “Tanka” beteken “kort lied” en is tradisioneel geskryf as ’n ononderbroke reël bestaande uit 31 lettergrepe, of ’n vers van 5 reëls wat rofweg verdeel is in 5-7-5-7-7 lettergrepe. Die natuur, seisoene, liefde en emosies is onderwerpe waaroor gedig word. Ek haal aan, die laaste tanka in die reeks:
Koekblik vol briewe
en ongemerkte grafte
liefde spook alom.
Die nag koud en sterverlig
laat die donkies huis toe kom.
Die verse in “’n Snak na asem” handel onder meer oor die ongeskonde ervarings vanuit die oogpunt van ’n kind of jongmens, byvoorbeeld “Kabouterland” (53), “Vanwaar, meisiekind?” (p. 54), “Matriekdans” (p. 58) en “Heimwee” (p. 67), met sy versweë jeugdige erotiek. Die titelgedig, “Hierdie Maandag is abstrak” (p. 56) voer ’n woordspel met die plekname wat die lewe se (dikwels) noodlottige wel en weë reflekteer, die slotstrofe: “Môre teken ek my naam. / Wág op die nuwe Maandag.” Die dae van die week word voorgestel as sikliese tydeenhede waarin abstraksie die lewe se onsekerheid en onbekendheid sinjaleer.
Deel ses, “Op soek na waarheid” temper die voorafgaande liriese gang en die spreker se stem is sober in verse wat herinner aan rasionele of akademiese betoë. ”Onoorwonne” (p. 70) beskryf Mount Everest se geomorfes en gletsers as ’n vorm van argitektuur en Bachelard se siening van “geleefde ruimtes” kom ter sprake. ’n Mens beleef ruimtes nie as blote Euklidiese ruimtes nie: dis is belewenisse en emosies wat aan ruimtes hul karakter of identiteit gee.
[…]
die berg gluur valleie ongenaakbaar deur gletsers aan
spirale waterkristalle omvorm goties
ragfyn die art nouveau na bo
[…]
hiérdie klim vereis die fokus van ’n valk
Die daaropvolgende “Onse Vader wat in die hemel is” berig oor Bybelgebeure, Boesmans en straatverkopers en -bewoners. Dit is egter nie religie wat die pas aangee nie; dit is humanitêre denke en menslikheid, soos die treffende “Straatkollekte” (p. 80) getuig:
met die hande bak
loer oë oor die Prado
se vensterrand omhoog
en vra ’n brood se geld
“my mense koop vaalwyn met rooi doppies”
en verdwyn skugter
straat-af
muntstuk in die hand.
“Mikrobioom” (p. 83) bevestig dat die lewe in Afrika, ongeag die uiteenlopende herkoms, ’n holistiese bron van lewe vorm: “Biodiversiteit benadruk dat die héle wereld familie is.”
In “Geen kommentaar” fokus die verse op die verwonding van die mens en sy landskap; “Rondomtalie” (p. 91) tref in sy oorspronklike aanbod – die vers is in tweet-vorm geskryf. Ten spyte van die waarskuwing teen aardverwarming, raak die leser bewus van die vervlietendheid en onmag van die sosiale media:
tweet
die roesemoes
van denke wat rock-en-roll
rondom die rodeo van aardverwarming
en die storm van oseane nie verstaan nie
se resumé is robuust
tweet
“Terloops” lees soos ’n digterlike inlas met verse wat handel oor die liefde, blomme, ’n Tibetaanse gebedemat en opera – alvorens die reisiger-digter traag begin afskeid neem van die leser.
“Ter elfder ure” verbeeld liminale ervarings en Van der Walt toon haar slag met 21 haikoes. In die daaropvolgende “Vir oulaas” is daar ’n terugkeer na onskuld: “Hond se gedagte” (p. 108) beskryf ’n hond se balspel, terwyl “Boeta” (p. 109) ’n jeugherinnering voor die gees roep. In die heel laaste deel, “Vir Ma” word daar deur verdere regressie in tyd teruggekeer na die moeder as oorsprong en bron van lewe. “Siembamba” (p.115) parodieer dié bekende Afrika-lied as ’n vertroostende wiegeliedjie waarmee die moeder ter ruste gelê word. Die voorafgaande “Nag, Ma” (p. 114), met sy teerheid en verrukking, vorm ’n hoogtepunt in die bundel.
noudat die laaste myl
in donker skadu geskied
en die wonder van die dood
met jou hand sag in myne
wag
helderblou deins jou oë terug
na die verlede van versies
opsê en lag
herinneringe in fragmente
vanuit ’n fotoraam
met die landskap
naatloos
in twee geskeur
hoorbaar
die stilte
van die onbesproke
vind skuiling in die holkrans
van die lewe en sluit jou dag
sonder vrees, gebonde
aan die uur wat jou weerloos
weglê
Hierdie Maandag is abstrak is ’n bevredigende debuut. Die digter ontgin die belewenis van geleefde plekke, ruimtes wat verken word deur die gebruik van taal en die leser uitnooi om dié digterlike ontdekkingsreis mee te maak.