Jacques Coetzee. Wenner van AVBOB Poësieprys (Afrikaanse kategorie)

 

 

Die wenner van die AVBOB-Poësieprys in die Afrikaanse afdeling is Jacques Coetzee. Hy wen met die gedig Doepa vir Allenigheid.

 

Jacques Coetzee woon in Kaapstad saam met sy vrou en gidshond. Hy is ’n sanger-liedjieskrywer in die orkes Red Earth & Rust en ’n lektor in Engelse letterkunde by Unisa. Hy is die medeskrywer, saam met Barbara Fairhead, van ’n digbundel met die titel The Love Sheet, en sy debuutbundel, An Illuminated Darkness, is in 2020 deur uHlanga Press gepubliseer.

 

 

 

Hier is die wengedig:

 

Doepa vir Allenigheid

Jacques Coetzee

Maar daardie aand het ons diep gesels,
die bottel leeggedrink. En ons het gekla
dat die wêreld te nou was rondom ons. Onthou jy nog?

Later, baie later het dit begin reën, en ons was bly ons het die deur
lankal toegemaak. Ons het ons begin verbeel
ons kon kies wat ons inlaat, wat buite bly.

Maar jy was mos altyd boer gewees, en ek
‘n intellektueel. Wat ons gedeel het:
Jim Morrison se stem wat ons beveel
om deur te breek tot anderkant
die stilte, anderkant vroomheid en bravado
en die koddige, outydse sekerhede.
Maar die volgende oggend op die bakkie, op pad na jou ma-hulle se huis toe,
hung over en nog half deur die slaap, het ons niks gesê nie.

Liewe neef, wat sal ek doen
met hierdie verskrikking, die onverstaanbare
geweld waarmee jy hier weg is?—weg is voor ek nog kon vra:
watter sterk doepa het jy toe ooit gekry
vir die alleenigheid? Was daar toe ooit regtig
‘n keuse oor wat ons binnelaat
en wat nie? Ek sit maar hierdie woorde neer
vir jou in die oop grond van Afrikaans. Vergewe my al die stiltes
wat ek nie kon oopsing nie.

Nog een, net nog een ding:
ek hoop daar was liefde
en vreugde tussenin die chaos en die vrees
wat soveel van ons erfporsie is.
Ek hoop jou oë het al die mooi dinge onthou wat hulle ooit gesien het
voor die einde.

 

 

 

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Jacques Coetzee. Wenner van AVBOB Poësieprys (Afrikaanse kategorie)”

  1. Anna Santagna :

    en waar is die gedig? wys dit tog! druk dit, gee dit weer…

  2. Die gedig verskyn nou onderaan die artikel.

  3. Gerard Scharn :

    Gefeliciteerd! Mooi gedicht.

  4. Anna Santagna :

    Dankie. Mooi, die “oop grond van Afrikaans”, in dié “onthou jy nog”-gedig.

    Soos elders ooit welluidend geskryf, sal jy moet “onthou vir twee” (Breytenbach in “September-see”.

Los kommentaar

 

*