Joan Hambidge. Gebed

 

Gebed

 

Ek slaan my oë op na Groot verseboek,

O waar sal my hulp vandaan kom?

Hoe sal ek dan die kromme note haal

in ‘n bedryf so self- en stomgerig?

Dalk soos Sylvia en haar susters

ten slotte boedel en erflating oorgee?

Ek soek in Dirk-se-werf na raad:

Ignatius bid steeds vir sy geestelike orde

nes Cussons en BB ondergronds draal.

Maar dit staan opgeskryf in ‘n doodgewone

aand in New Haven met wintersneeu en wind:

dat pyn bestaan, dat pyn bestaan in hierdie katedraal,

met eiesinnige liturgie en troostelose litanie, is waar.

 

© Joan Hambidge, 2021

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Joan Hambidge. Gebed”

  1. Wanneer ‘n vernuftige en deurwinterde digter ‘n gedig aanbied, soos hierdie een, is dit ‘n genoeglike ervaring. Elke woord in hierdie dig intertekstueel-geweefde vers is goed geplaas, soos boustene in ‘n katedraal (opstelike verwysing).

    Die wanhoop van Sylvia Plath, die wye verwysingsveld van Opperman, die groot teenwoordigheid van Breyten en ander raakpunte, lei mens om van een intense moment-voetklip na die ander oor die diep waters van poësie te stap, sonder om sinsverwarrend meegesleur te word.

    Dan bekyk jy die volgende frase met gemengde gevoelens: “in ‘n bedryf so self- en stomgerig?”

    Dit is so dat ons letterkunde klein is in vergelyking met byvoorbeeld die Europese literêre rykdomme wat oor eeue opgebou is. Maar gelukkig het die deure oor die afgelope paar dekades opgegaan op die literature van veral Europa. Dink maar aan ‘n paar verrykers van ons literatuur met hulle vertalings: Daniel Hugo wat vir ons veral Nederlandse en Duitse vertalings gebring het, John Boje met sy verafrikaansing van oud-Engels, Henning Pieterse wat die onstuimige Franse Houellenbeck ietwat in die bek geruk het. En ander.

    Ons hoef nie meer te voel dat ons letterkunde net in bedompige lesingsale of besprekingsgroepe lewe nie. En nou is daar ook Afrikaaps …

Los kommentaar

 

*