Daniel Hugo: Jaap Steyn – ’n herinnering

 

 

 

 

Boekversamelaars gru meestal van bekrapte boeke. Op my boekrak staan daar so ʼn boek, maar dit is een waarvan ek nooit ontslae sal raak nie.

In J.C. (Jaap) Steyn se Sonkyker (2008), skryf hy onder meer oor die tydjie in 1988 wat ek by hom in Bloemfontein geloseer het. My huwelik, my lektorsloopbaan en my proefskrif was toe in hulle onderskeie doodsnikke. Die proefskrif het oor die vernufpoësie in Afrikaans gehandel, met die gedigte van Merwe Scholtz en J.C. Steyn as my eintlike ondersoekterrein. Dit was natuurlik ʼn groot voorreg én voordeel om ʼn inwonende gas by een van my navorsingsonderwerpe te wees.

Jaap se meenthuis was inderwaarheid ʼn bewoonde biblioteek. Daar was oral boeke, selfs in sy kombuiskaste. Jaap vertel self verder:

Daniel se vierjarige seun, George, het ná ʼn besoek vertel van die groot ‘apteek’ in my huis, waarmee hy die biblioteek bedoel het. Maar sy pa het net letterkunde, boeke oor die letterkunde en biografieë van skrywers daaruit gelees en vir al die ander interessante goed in my ‘apteek’ sy neus opgetrek.

Uit nostalgie gaan haal ek weer Jaap se digbundel Die grammatika van liefhê (1975) uit my rak. Die gedigte is intensief geannoteer deur die ywerige doktorsgraadkandidaat. Voorin staan my naam met plek en datum van aanskaffing: “Majuba, Stellenbosch, 1976”. Die honneursstudent en inwoner van die Majuba-koshuis sou in 1976 natuurlik nooit kon raai dat hy ʼn dekade later dieselfde bundel lettergreep vir lettergreep sou bestudeer onder dieselfde dak as die digter nie.

Ek blaai deur die boek en verwonder my oor die vreemde woorde wat langs die verse in potlood geskryf staan: apokoinou, paronimie, homonimie, homofonie, polisemie, ikonisiteit… Soveel geleerdheid wat met die jare verdof het!

Ek kom op ʼn gedig af wat met ʼn dik streep deurgehaal is, en skielik onthou ek. Toe ek Jaap oor een of ander duisterheid in die gedig vra, gryp hy die potlood uit my hand en trek die streep daardeur met die opmerking: “Dis louter stront!” Dit is die strengste voorbeeld van selfkritiek wat ek al by ʼn digter teëgekom het. Ek het so groot geskrik dat ek die gedig toe nie in my proefskrif bespreek het nie.

Jaap Steyn was nog altyd redelik pessimisties oor die voortbestaan van Afrikaans. Die titel van hierdie afgekeurde gedig is “Einde”, en die volgende uitspraak kom daarin voor: “Êrens het ʼn taal ʼn geslote boekery geraak, ʼn afgesluite hoofstuk”.

Sou Jaap se daad van vandalisme dalk ook selfkritiek kon wees op sy donker siening oor die toekoms van Afrikaans? Sy jongste publikasie is die magistrale geskiedenis van Afrikaans as kultuurtaal en heet “Ons gaan ʼn taal maak” – Afrikaans sedert die Patriot-jare (2014). Sy hoopvolle slotwoorde en raad aan Afrikaanssprekendes is: “Skep ʼn eie toekoms”.

Hoe dit ook al sy: die paar weke in J.C. Steyn se geslote boekery was van die leersaamste in my lewe. In daardie “apteek” kon ek ook rus en genesing vind gedurende ʼn onstuimige tydperk van my bestaan. Daarvoor sal ek Jaap ewig dankbaar bly.

 

Bronne

 

Steyn, J.C. 1975. Die grammatika van liefhê. Kaapstad: Tafelberg.

Steyn, J.C. 2008. Sonkyker. Afrikaner in die verkeerde eeu. Kaapstad: Tafelberg.

Steyn, J.C. 2014. “Ons gaan ’n taal maak”. Afrikaans sedert die Patriot-jare. Pretoria: Kraal Uitgewers.

 

(Uit: Daniel Hugo: Vers & Kapittel. Artikels, rubrieke en naskrifte oor die digkuns, Kraal Uitgewers, 2018)

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Daniel Hugo: Jaap Steyn – ’n herinnering”

  1. Ek moet byvoeg: sedert hierdie rubriek ‘n paar jaar gelede geskryf is, het daar nog ‘n boek van die immer produktiewe, onvermoeibare J.C. Steyn verskyn: Verset & Opbou. Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans (Kraal Uitgewers, 2019). Dit is die boek wat hy op die foto hierbo vashou.

  2. Meyer van Rensburg :

    “Die grammatika van liefhe “ was vir my ‘n wonderlike nuwe openbaring van hoe mens gedigte kan konstrueer en ek het dit oor en oor gelees : die gedig en die bundel. Probeer steeds sonder welslae om sy voorbeeld te volg!

Los kommentaar

 

*