Jakes Gerwel Stigting. Mediaverklaring: Derde Golf

 

Derde Golf

gedigte deur Mercy Kannemeyer, Salvia Ockhuis, Valda Jansen, Lydia Gittens en Andries Bezuidenhout, opname en musiek deur Andries Bezuidenhout

Vrygestel deur die Jakes Gerwel-stigting en PEN Afrikaans

Vanaf 30 September 2021 beskikbaar op YouTube, Apple Music, iTunes, Spotify, Deezer, Amazon, Tidal, ens.

https://distrokid.com/hyperfollow/somersetoossessies/derde-golf

 

Agtergrond

Ses skrywers, waarvan vyf gedigte ook skryf, woon vir ‘n maand in ‘n twee eeu-oue huis in een van die Oos-Kaap se historiese dorpe, oftewel Somerset-Oos. Dít te midde van ‘n grendeltoestand en aandklokreël as teenvoeter vir die derde vlaag Covid-19 infeksies. ‘n Voormalige president word tronk toe gestuur, vir drie dae brand winkelsentrums en fabrieke. Die inwoners probeer om op hul skryfwerk te fokus – ‘n roman, kortverhaalbundels, ‘n jeugroman, ‘n digbundel – maar wonder ook oor wat rondom hul aangaan.

Gesprekke oor aandete, oor skryf, oor als wat besig is om te gebeur. Hulle gaan gemeenskapsentrum toe om ingeënt te word, gaan stap gemasker deur die dorp. Meestal skryf hulle in hul kamers. ‘n Idee begin posvat, die moontlikheid van gedigte opneem, dalk saam met musiek. Aanvanklike twyfel en irritasie, maar dan meld gedigte aan. Nuwe gedigte word geskryf, ou gedigte word uit die argief gehaal. Iets wat die tydgreep waarin hul hulself bevind weerspieël, maar ook iets om hul tyd saam mee te onthou.

Binne die bestek van ‘n maand word sestien gedigte opgeneem en musikaal verwerk – die resultaat is ‘n album getiteld Derde golf.

 

Digterlike temas

‘n Deurlopende tema is die spanning tussen beskermde binneruimtes en die wêreld daar buite. Sommige van die gedigte praat direk oor die Covid pandemie, soos Salvia Ockhuis se gedig oor ‘n familielid wat in ‘n hospitaalbed aan die lewe probeer bly, aan ‘n respirator gekoppel. Een van haar ander gedigte – komende van ‘n verpleegster – is ‘n huldeblyk aan kollegas wat op die voorpunt van die linies die pandemie moet terughou.

Mercy Kannemeyer praat oor die intieme ruimte van liefde, maar ook oor hoe ons vanuit ons binnekamers met die wêreld deur middel van sosiale media omgaan – sy skryf oor Facebook, Twitter en Instagram. Sy spot en lag, maar onder die spot draai ‘n ernstiger duiwel rond. Só ook met haar gedig oor feminisme – derde golf feminisme of andersins – ‘n gespot met erns, maar ernstige spot.

Valda Jansen se gedig is op Somerset-Oos geskryf en handel oor ‘n wandeling deur die dorp met die plaaslike apteek as bestemming. Die dorp se stil, rustige atmosfeer word teenoor ‘n doodgewone maar traumatiese insident opgestel om iets van daardie spanning tussen ons intieme ruimtes en die wêreld daar buite vas te vang. Engele en spoke praat met die psigiese ervaring van daardie spanning, waarvan ons op ‘n manier sin moet probeer maak.

Lydia Gittens se twee gedigte is ook tydens haar verblyf in Somerset-Oos geskryf. Een handel oor die jeugroman waaraan sy werk, ‘n hermetiese en bondige opsomming van die boek wat besig is om op haar rekenaar vorm aan te neem. Die ander handel oor ‘n kerkgebou in Somerset-Oos, naby aan die Paulet-huis, met ‘n “Reg van toegang voorbehou” kennisgewing bo die deur. Inperking neem baie vorms aan.

Andries Bezuidenhout herinner homself aan tye toe ‘n mens kon reis – ‘n gedig oor ‘n treinrit in Duitsland, ‘n ander oor liefdesbriewe op lughawens. Een van sy gedigte is tydens ‘n rockfees geskryf (die idee van soveel mense op een plek nou ‘n vae herinnering) en praat oor voëls, bome, klippe en die mens se onvermoë om te midde van harde musiek te hoor wat hulle aan ons probeer sê.

 

Musiek en klankontwerp

Die stemme vir die sestien gedigte is in die sitkamer van die Paulet-huis in Somerset-Oos opgeneem. “Dis ‘n pragtige akoestiese ruimte,” verduidelik Andries, “so ‘n groot vertrek, met houtplafon en vloerplanke, matte en sagte meubels.” Andries het ‘n tydelike ateljee met mikrofone en ander toerusting in die sitkamer opgestel, die gordyne toegetrek en ‘n vuur in die kaggel vir atmosfeer en hitte aangesteek. “In my navorsing oor die meng van klank het ek talle onderhoude met klankingenieurs op YouTube gekyk. Soveel van hulle maak die punt dat ‘n ateljee ‘n vriendelike ruimte vir kunstenaars moet wees. Kunstenaars moet gemaklik voel, sodat hulle van die mikrofone en tegnologie vergeet en sodoende eerder op woorde en die emosionele lading wat dit dra kan konsentreer.”

Die meeste van die gedigte is ‘n paar keer voorgelees en die beste weergawes is uiteindelik gebruik. Sommige is met ‘n klankbaan van tromme voorgelees, ander sonder enige musikale beplanning of begeleiding. “Van Mercy se gedigte is skreeusnaaks en mense in die vertrek het begin lag toe sy dit voorlees. Dit was so ‘n mooi en natuurlike oomblik, dat ek die gelag behou het. Ek dink dit dra by tot die atmosfeer,” sê Andries.

Met die musikale verwerkings wou Andries hê dat die musiek die woorde nie moet oordonder nie, maar eerder die tipe atmosfeer skep wat die inhoud van die gedig onderstreep. Valda Jansen se gedig bevat byvoorbeeld klank uit ‘n video wat sy tydens een van haar wandelinge deur die dorp op haal selfoon geneem het. “Ek was verstom oor die klankkwaliteit,” sê Andries, “as jy mooi luister hoor jy hoe koeie herkou.” Lydia Gittens se gedig oor die kerk is in ‘n katedraal geplaas en Andries se gedig oor die Duitse trein bevat klankgrepe wat op ‘n Duitse trein opgeneem is. “Ek wou landskappe of klankskappe maak waarin die woorde tuis kon voel,” sê Andries.

Wat die instrumentasie betref het Andries die kitaar in sy kamer in Paulet-huis opgeneem en die res is deur middel van digitale sintetiseerders en klankmonsters geprogrammeer.

Derde golf is in ‘n vertrek opgeneem waar mense al van 1827 (so ver vasgestel kan word) af woon. Daar word vertel van spoke wat deur die huis dwaal, van daar die verwysing in Valda Jansen se gedig na spoke wat van gedaante verwissel. Die sestien gedigte op die album is soms liries, soms ernstig, soms snaaks, soms kwaad, maar bowenal probeer hulle om spoke te besweer.

 

Bydraers

Mercy Kannemeyer is ‘n dokumentêre filmmaker, teater regisseur en draaiboekskrywer. Sy woon in Mosselbaai en was in Somerset-Oos om aan ‘n kortverhaalbundel te werk.

Salvia Ockhuis is ‘n kortverhaalskrywer en digter. Een van haar gedigte het pas die AVBOB digkuns kompetisie se derde prys verower. Sy woon in Malmesbury en was in Somerset-Oos om aan ‘n bundel kortverhale te werk.

Valda Jansen is ‘n joernalis, digter en skrywer. Haar roman “Hy kom met die skoenlappers” is met die Jan Rabie-Rapport-prys bekroon. Sy woon in Kaapstad en was in Somerset-Oos om aan ‘n volgende roman te werk.

Lydia Gittens het as skrywer kortverhale en liefdesromans gepubliseer. Sy woon in Pretoria en was in Somerset-Oos om aan haar eerste jeugroman te werk.

Andries Bezuidenhout is ‘n digter, musikant en skilder. Hy woon in Alice en was in Somerset-Oos om aan ‘n derde digbundel te werk.

 

Derde golf

1 · Liefde is – Mercy Kannemeyer

2 · Ode aan ons liefde – Salvia Ockhuis

3 · Bedags verander die spoke van gedaante – Valda Jansen

4 · Tra-tra-enigma – Salvia Ockhuis

5 · Windryer – Lydia Gittens

6 · My Facebook is nooit toe nie – Mercy Kannemeyer

7 · Bedinging – Salvia Ockhuis

8 · Die ware landskap is een van rots – Andries Bezuidenhout

9 · Twitter – Mercy Kannemeyer

10 · Pappa – Salvia Ockhuis

11 · Toegang voorbehou – Lydia Gittens

12 · Instagram – Mercy Kannemeyer

13 · Op die trein tussen Kassel en Witzenhausen – Andries Bezuidenhout

14 · Verpleegster – Salvia Ockhuis

15 · As ek ‘n groter feminis was – Mercy Kannemeyer

16 · Brief huis toe vertraag – Andries Bezuidenhout

 

Bookmark and Share

Comments are closed.