Ou boom
Pasop, hierdie boom is naalddraend.
‘n Arsenaal vol penne en steke.
Die skerpte van my gebladder
vul menigte met vrees, want wie is
ooit gereed vir soveel vingerprikke?
Was ek maar den, sipres of seder,
kon mense kersliggies aan my hang.
Heeljaar uitgelate feesmaal op
feesmaal in my skaduwee geniet.
Nadoods selfs ‘n bank van my maak,
om die trae dae om op te sit en rus.
Maar die nare werklikheid suis
dag en nag deur my afgematte takke.
Te veel slegte nuus dra ek aan:
Berigte oor verval, oor verlies,
oor talle sonne wat hopeloos
te vroeg moes onder gaan.
En na die aanslae van soveel
jare, staan ek hier stroef,
hoogs prikkelbaar
die ene barste en knoetse.
My stryd teen die oormaat soet
voer ek nogtans steeds verbete:
gewortel in Goodwood,
die ou dokter van diabetes.
© Hennie Nortjé, 2021