Herbesoek aan Fort Beaufort
Veertig jaar later en die sypaadjieboom
voor my Ouma se huis staan nog steeds
kromgetrek soos ’n ouvrou vol rumatiek
met haar takarms dik geswel soos Ouma
se ingesuurde brood in die warm oond.
Dié boom was my droombestemming
my paspoort na die Royal Hotel oorkant
die pad, die blink motors en haai-polfaais.
My geronde tonnelhande is my verkyker.
Die portier stoot die hoop tasse op ’n waentjie
en ek maak my lyf klein soos ’n ping-pong balletjie.
Die son val blokkies op my deur die boom se blare.
Dit is my heel eerste reis na ’n ander wêreld.
Die Royal Hotel bestaan lankal nie meer nie,
maar my vingerafdrukke kleef nog oral
aan dié boom se bas. Daar is net nuwe
blare aan die takke waar ek eenmaal was.
© Marthé McLoud