Wenner van die kompetisie vir liefdesgedigte met ‘n Pablo Neruda-reël
Hein Viljoen se gedig “Rivier” is die wengedig.
Die beoordelaars skryf soos volg oor die beoordelingsproses:
“Ek het gefokus op verrassende beeldgebruik en wending. Pablo Neruda se werk is so beroemd en vormend tov die internasionale digkuns, dat gesprekvoering daarmee maklik clichématig kan raak deur in allerlei oorbekende beelde te verval. Die gedigte wat ek as die beste beskou, het dan spesifiek die liefdestema (wat telkens in die verse na vore kom) op ongewone, speelse wyse ontgin. Klank- en taalgebruik is uiteraard ook in ag geneem. (Marni Bonthuys).
Elke liefdesgedig verskaf sy eie rubriek waarvolgens dit beoordeel kan word. Wanneer jy ’n gedig lees, kom die sterk- en swakpunte self te voorskyn. Daaraan beoordeel jy ’n gedig (of dit geslaagd of minder geslaagd is) en bied dié beoordeling self ’n platform waarvolgens gedigte met mekaar vergelyk kan word. Vir my was die oopmaak van narratiewe ruimtes deur poëtiese vertelstrategieë in “en ruimtes word geopen met behulp van die wind” [byvoorbeeld besonder treffend]. [Ook], het die taktiele woordgebruik in “rivier”, wat ’n verbondenheid met die tasbare wêreld vooropstel, my betower. Die subtiele seggingskrag van die spreker in “Rondom my” het [beïndruk]. “Vanaand kan ek die hartseerste reëls skryf” maak van Neruda se mees bekende versreëls gebruik as intertekstuele verwysing om die spreker se eie liefdesverlies op ’n aangrypende wyse uit te beeld. Die inskrywings was van ’n hoë standaard gewees en dit was moeilik om die gedigte beoordelend te lees. Tog was dit ’n baie lonende proses. (Alwyn Roux).
Professor Bernard Odendaal was veral beïndruk met die hoë standaard van al die inskrywings. Weer eens was dit besonder moeilik om slegs een wenner aan te wys. Baie geluk aan Hein Viljoen wat met die prysgeld van R2 000 wegstap.
Die beoordelingspaneel het bestaan uit die volgende literatore:
Prof. Bernard Odendaal
Dr. Alwyn Roux
Dr. Marni Bonthuys
Die wengedig
Rivier
como en la piedra fresca
del manantial, el agua
abre un ancho relámpago de espuma,
así es la sonrisa en tu rostro,
bella
soos koel water stroom oor ‘n klip glimlag jy
die geur van water modder biesies en mos
die rivier is jy kabbelend sondeurdrenk
kaats jy skerwe son teen die bome op
biesies en watergras is jy
welig vasgesuig in die sagte modder
vislarwes krieseltjies grond
varswaterplankton klein garnaaltjies
dwarrel om jou wortels rond
boom is jy jou wortels diep in die nat wal
jou takke buig hoog maar deemoedig bo die gras
waar vinke aan jou takkies nessies kom weef
bye heeldag om jou blommeslierte zoem
die berg is jy groen van gras en doringbome
klippe rooi rotsvorms ruwe kranse
sagte rondings wat die vorms van jou bors herhaal
die kelk van jou heupe jou geheime vallei
as ek aan jou mond raak en in jou oë kyk
sien ek die aarde in jou oë water en lug
die son vlammend teen die horison oprys
Geluk, Hein!
Is mooi. Baie geluk!
Veels geluk Hein. Ek hou van die manier hoe jy die Neruda-fases laat deurskemer in jou gedig. Mens sou kon dink dat Neruda soiets kon gelewer het indien hy in Afrikaans geskryf het.
Wat ‘n lieflike gedig, Hein! Welgedaan.
Veels geluk, Hein!
Baie dankie, almal. Neruda is formidabel. Jy het hom wonderlik vir ons oopgemaak, De Waal.
Die laaste reël ontbreek ongelukkig in hierdie weergawe. Dit lui:
die son vlammend bo die horison oprys
Baie geluk!
Pragtige gedig.