Die skepping van Eva
Op vyf teken my kind
papiere vol geluk:
vierkanthuisies
met driehoekdakke
en rookkartels,
ballerinas, eenhorings, reënboë
met wolke as oorfone,
en ‘n son,
voëls, wenkbroue in vlug
of op mandjieneste
vol eiers,
blomme soos wagtorings
op groen grond, reën,
blou strepe reën,
en in die kombuis
teen die yskas
een
van ‘n bruid: stralend,
met ‘n glimlag soos
‘n waatlemoenskyf,
sonder ‘n neus,
maar met twee
spikkeloë
twee arms wat wyd
wegstaan van
haar lyf
en aan elkeen ‘n hand
met vyf klompvingers
ewe groot.
Uit een stomp hand spruit
blomme soos ‘n fontein
asof geheg met gare
en in die leegte bo haar
reën blomme, reën
blomme neer.
Sy dra ‘n kort, wit rok, blou omlyn,
en tussen dun beentjies
hang ‘n yl
sleep, die allerbelangrike sleep
wat haar as prinses
inwy.
Dan kom uit die kant van die bladsy
‘n hand, ook met klompvingers –
soos ‘n beer se poot –
wat na haar reik, na wie sy reik,
alreeds op vyf ‘n bruid wat smag
na ewigheid.
© Marieta McGrath, 2022