ou indrukke
steeds chronies nie rus vir jou siel nie
buiten teoreties in ‘n analis se stywe stelsel
daar sal ook na stelsels nog baie gekraai word
soveel sonne kom tog iewers op
want die vrug van die gees
is die hele verbeelding
ek het ‘n sitplek in ‘n donker kompartement
op die aandtrein na metz vanaf parys
onder die rollende honderd wiele
smelt die ys op die ysterspoor skaars
sy is mooi en versag versorg
met lig se inflits op ‘n stasie
en ‘n ent duskant middeljarig
sit teenoor my by die verdeelde venster
nes die lyk van ‘n mooi vrou kortliks uitgestal
in die kis van haar lewe
haar terapeut (sic) in boston eis:
reis alleen bestudeer die middeleeue
(die verenigde state leef met ‘n verstekverlede)
en vergeet van als na die wittebrood
– sy kies die romaanse styl en dan berlyn
‘n jong hiëna staan nog skraal in ‘n klein kou
in ‘n paryse dierewinkel
dit staar katatonies na sy vervreemde voorpote
– ‘n troetelskok
saam met (vir die buitestander)
‘n luislang wat geknoop slaap soos ‘n angsprobleem in ’n glaskishok
(etiket verklaar of vervals agtergrond: angola in afrika)
langs twee vrugtelose bruin vlermuise wat tesame aan een hangstokkie klou
elkeen waansinniglik te verhandel
in die stad val lig aan stukke
en die vrug van die gees
is die hele verbeelding
© Waldemar Gouws, 2022
