Buffelsfontein
Die ou plaas se naam is Buffelsfontein
en daar is suiwer en lekker water.
In hierdie kontrei drink ons brandewyn.
Van die ooms en tantes neem Nagmaalwyn
en sê vir ’n dop: “Ag, liewer later.”
Die ou plaas se naam is Buffelsfontein.
Die pastoor preek oor Luther en Calvyn
en hoor iewers agter iemand skater.
In hierdie kontrei drink ons brandewyn.
Die mense koop nog bier, wyn en cane
en dink selde aan hul alma mater.
Die ou plaas se naam is Buffelsfontein.
In die dorp het maer manne verskyn
met baarde lank soos dié van ’n pater.
In hierdie kontrei drink ons brandewyn.
Die bakkies vol diesel getap verdwyn
met die rowwe bliksems nou al kwater.
Die ou plaas se naam is Buffelsfontein.
In hierdie kontrei drink ons brandewyn.
© Johann Lodewyk Marais, 2022
Dankie Johann. Jy is die meester van hierdie versvorm soos o.a. Antjie Krog.
Dankie vir hierdie afgeronde en genietlike villanelle, Johann.