X
wat noem ek die oomblik
vóór die gedig
wat deur ‘x’ aangedui word?
die oomblik voor die uiting,
voor die ontstaan van woorde
die oomblik voor die aan-breek van die skryf
die suiwer gevoel van dit móét nou uitwaarts?
wanneer die hart nié orgaan van weet is nie –
(of eerder té orgaan is van die weet − )
wanneer gevoel nog nie misplaaste woorde is nie,
en ʼn gevoel van God
dit wil verplaas
wat deur mens herlei moet word.
wanneer woorde se wanklank
nog nie ʼn wrangsmaak geword het nie
en eggo, binne bestek van die word-ding –
die Teenwoordigheid voor artikulasie of assosiasie
vóór die goddelike distribusie-kanaal
die verspreider die reg probeer gee
om te probeer herlei
wat onherleibaar is −
is die ‘x’ God-in-my
of menslike inspirasie
wat suiwer is soos God
voor die uiting daarvan?
nee,
x is die hart se tok-tok
gehoor as oor en oor polsing
wat uitsien na die oomblik
− oomblikke van nou in die grou blou −
wanneer daar totsiens gesê sal word aan x
om in daardie vaarwel (as roeping)
te weet
God is
verslawing van mensgemaakte y-tings
© Bester Meyer, 2022