Die verseëlde tyd
(met erkenning aan Arseny & Andrei Tarkowski)
In hierdie 35mm film het ek leer droom
en droom ek steeds
en sal ek nog ’n laaste droom onthou
dat als herhaal, dat als herskik
en dat jy als sal sien wat ek kon sien:
dat ons óp die kaaie langs die Swartsee loop
en dat ons dan die trappe van Potemkin neem
af na die hawe waar ons geskaakte oorlogskip
uit Odessa teen die tsaar se vloot uitvaar
totdat sy leër uiteindelik by óns aansluit
en eendag sal ons weer oor die Steppe swerf
of met die M03 tussen Dovzhanski en Kiëf
sonder die vrees vir veldslae of konvooie reis
deur die ruïnes wat getuies van die inval bly
en by Poltava sal ’n Kossak vir ons waai
totdat ons later in teaters na die film kyk
waar ons die seun, Ivan, uiteindelik ontmoet
en sy bewussynstroom in hierdie spieël verseël:
van die Oeralberge waar die tsaar se lêplek was
en Polyushka Polye wat uit die heuwels dreun
ek was ‘n kers wat by sy laaste feesmaal brand.
© Mellet Moll, 2022