Vuurslag
Water op die maan blyk
urine uit Apollo-14 te wees
‘n verlore beursie met ID
en kaarte gesteel teruggevind
‘n oorlog se impak op Kerkplein
met Kruger wat noord kyk nie oos
Alle eer aan God en nie aan mense
uit Psalm 105 was sy versoek
nooit op die bronsvoetstuk gebeitel
met die vier boerekrygers wat waghou
water op die maan blyk
urine uit Apollo-14 te wees
‘n verlore beursie met ID
en kaarte gesteel teruggevind
‘n kruis uitgekap in gevriesde water
waar die Russies-Ortodokse Poetin
hom doop gesondheid ter wille
gedenk die weg van Christus
vooraf geheilig deur ‘n priester
so die kryg en godsdiens versoen
oorlog en vrede woed steeds voort
in ‘n nuwe verskroeide aarde
water op die maan blyk
urine uit Apollo-14 te wees
‘n verlore beursie met ID
en kaarte teruggevind
Kitchener se oorlogbuit
soos boere sonder graan
in die Ukraïne einde van ABO
na slag van Majuba die beeld
van brons nie marmer
om die winters te trotseer
gewapende burgers op Kerkplein
deur Van Wouw in vier windrigtings
sittend waaksaam gespanne
met Oom Paul gemanel en kuil
water op die maan blyk
urine uit Apollo-14 te wees
‘n verlore beursie met ID
en kaarte teruggevind
Kitchener verbied monumente
Poetin wys ‘n ikoon af
beeld verskans agter ‘n heining
gevandaliseer gepetrolbom
1883 ZAR president ingesweer
groenspaan vinger op sneller
water op die maan blyk
urine uit Apollo-14 te wees
‘n verlore beursie met ID
en kaarte teruggevind
© Joan Hambidge, 2022
Hoogs kontrapuntaal. Die vers as ‘n geheel,
asook die koeplette onderling besit ‘n sekere
“tonus”; kenmerkend van die beste werk
in enige taal.