Uiterste wilsbeskikking en laaste wens
Jou laaste aardse bymekaarmaak
was weinig om te verdeel, te bemaak
huis wat deur verweer, roes en rot
mettertyd sou verword tot krot
dít het jy afstand van gedoen
vroegtydig met al minder versoen
op ons reise het jy het al ligter getas
veel ingeneem, waargeneem, vasgelê:
Wildernis se kus, Kaaimans se pas,
God se gety, ruigtes binnelandse vlei,
Vleesbaai, Voorbaai, Stilbaai.
En in die halfweg, in die haai Karoo,
pyp in die hand, op ʼn skemerstoep
kon jy alles weer lééfhelder herroep.
Pa, wat sou ek nie nou alles wou prysgee,
om een laaste maal,
weer bande met al ons stilhouplekke te smee
net, één laaste, heilige maal.
Hierdie gedig – ’n inskrywing vir die jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie – is in die AVBOB Poësiebiblioteek gepubliseer, en word herpubliseer met toestemming van die AVBOB Poësieprojek. Klik hier om toegang tot meer as 17 000 gedigte in al 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale te kry: https://www.avbobpoetry.co.za/Poem/ViewAll