Stalin se Stewels, monument in Boedapest
Oekraïne Februarie 2022
Die wolfdoring staan en bloei
wit wolwe en ‘n rooflied
hef en hef lang huil – en huilbuie aan
wit wolwe en ‘n rooflied….
(Hongarye 1956 NP van Wyk Louw)
I.
Die stewels van Stalin bly nog trap
in Boedapest
die podium nou groter as die beeld
En uit daardie verharde ooste
rol weer die tenks soos koue ystervuiste
asof grense net ’n tou is om die kryt
II
En hier in Suid-Afrika wragtigwaar
word Rusland se verskonings geglo
uit skone verbittering en onnoselheid –
die Weste het óns land ook weggegee
As ons volk net hulle oë kon lig
om oor die kampdrade te kyk
gaan hulle dalk verstaan
aan ander word gedoen
wat jy nie aan jou gedoen wou hê nie
III
Na nagte van ligspoorkoeëls
en die kanons van kanonne
word die verwoesting waar
soos die daglig stukkie vir stukkie inkruip
oor die stof, baksteen, sement, dakbalke
wat in sak en as lê op die haard.
Op ’n drafstap
vlug burgerlike teikens
in jasse voor die Russe
onder die reine sneeu
wat die hemel wit vee
soos valse getuienis –
en die haat draf saam
© Anton Döckel, 2022
Iemand sal dit seker sê – iemand sal dit seker weet – dat Louw se gedig “Hongarye: November 1956” heet.