Marlise Joubert. irina se klavier
irina se klavier
kiëf, oekraïne
op haar wit vleuelklavier
speel die vrou ʼn laaste
vertolking van chopin –
terwyl die bomme buite
chaos en verwoesting saai
word ook háár huis meteens
begrawe onder as en puin
al wat heel en regop staan
is dié klavier en haar vingers
dans vir oulaas nootvas
asof sy hoog bo ontploffings
van geweld en pyn kan styg
voordat sy vervaart moet vlug
die onbekende begrensing in
met ʼn rugsak en haar kind
met hande stiller opgevou
as troos om die melodie in
haar verstrooiing te onthou
© marlise joubert / 2022
https://www.youtube.com/watch?v=t7S6nQbvcTw