Vroed
Die hoeke van die huis sal nie meer treur nie
en die noordewind sal uiteindelik gaan slaap
die getye sal soos maankinders op die oewers
van die oseane speel, waar bedags die seevoëls
soos ver lugskepe oor uitgestrekte kimme draal
die hemelruim sal stil en ongerep bly aarsel
oor twee mense wat die nie-lineariteit van tyd
in onverkende ruimtes tussen mekaar ontdek
met die broosheid van ’n lankverlore melankolie
wat homself as die ongeskrewe vers aanmeld
in chromosome, sel na sel, net soos die bome
wat na die onverkrygbare, die immortale ligte
in die boonste koepel smag, heimlik reikend na
’n suurstofryke oerplaneet, ’n habitat van lug
en grond en water, maar veral van grond, want
óns is die grond, ons is fossiele in die keerkring
van hierdie lewe, ons is die betekenis daarvan:
kyk, die reën val neer oor onvervulde minnaars
wat in die verspeelde halflewe verdwaal, soos
die lacrimosa om en om die hoeke van ons huis
o, my tweeling
ek wil nie meer in winderige nagte slaap nie.
© Mellet Moll, 2022