Mellet Moll. Carl Sagan
Carl Sagan
(1934 – 1996)
i.
Snags het die firmament ons bewaar
en ons soos vuurwaens laat voortstu
deur heelalle vol verblindende sterre
wat bewoon is deur almagtige gode:
Isis, Osiris en Horus wat die aardse
lot van sterflinge soos ons geskik het.
En ons het hulle vereer deur planete
en konstellasies na hulle te vernoem.
Dit is hoe graag ons wou glo dat ons
nie alleen in hierdie uitspansel is nie.
Juis daarom dan, het hierdie panteon
van hemelwesens in stryd getree met
mekaar, en ons het hulle monumente
opgerig, as bewys van ons erkenning
in die hemele maar ook op die aarde.
Later het ons al hierdie gode vervang
met nuwe gode, wat ook nie ons vrae
kon verantwoord nie. Ons gunstelinge
op mensgemaakte altare, het ons ons
antwoorde in die wetenskappe gevind.
Maar ons, as gelowiges, het ’n sein in
die kosmos gaan soek, ons het priem-
getalle, die goue plaat van Bach en ’n
boodskap deur Jimmy Carter gestuur.
Ons oë was na die hemele opgeslaan.
ii.
Ons was gereed om die ongelooflike
te aanvaar, om ons lotsbestemming
in ’n verre sterrestelsel te sien staan.
Maar daar was net ’n dawerende stil
nag sonder aliens of gode of engele.
Behalwe by Cornell Universiteit in ’n
verlate kantoor waar snags die Bran-
denburg Concerto’s weer eens speel
en waghou oor die eensame planeet:
En hoe intens die aarde jóú nog mis.
Ai Carl
die wese en die niet is steeds te veel.
© Mellet Moll, 2022
Mens moet erkenning gee aan die ou Grieke se redelikheid, want hulle gode op die berg Olimpus was nie te hoog weg van ons ondermaanses nie – net daar waar die wolke lê. Ek kry nie die verwysing na enige planete en konstellasies wat na ou Egiptiese gode (Isis en Osiris en Horus) vernoem is nie.
Hoewel ek nie doelbewus ‘n gedig wil verduidelik of myself aan outeursdwaling wil skuldig maak nie, dalk net die volgende:
Die eerste strofe besin oor die mensdom wat sedert antikwiteit ‘n assosiasie maak tussen die sterre en hulle gode, losweg gebaseer op die gedagte dat die gode daar woon.
As dit die uitgangspunt is, moet ons die gode dus by ‘n ouer beskawing gaan soek en ons moet doelbewus nie verwar word deur benamings wat vandag geldig is nie. Die Egiptiese beskawing is volgens die meeste bronne ongeveer 4000 tot 5000 jaar ouer as die Griekse beskawing en ons kan hieruit aflei hulle begrip van die sterre ook, beide tov astronomie asook astrologie.
Lees gerus na oor die sg. “Dendera Zodiac” waarin heelparty Egiptiese gode in die sterre beskryf word, insluitend bogenoemde.
Omdat wetenskap en mitologie in die ouer beskawings verweef was, is die parabel konnotatief en nie noodwendig denotatief nie. Ek het dus nie werklik belang by watter ster as Isis, of as Osirus, of as Horus bekend staan nie. Trouens, dit is nie die oogmerk van die gedig om feitelik verslag hieroor te doen nie. Dit volg eerder die denkwyse van Sagan wat ons fiksasie met die sterre juis in daardie antikwiteit gaan haal.
Baie dankie vir jou moeite om hieroor te besin.
Gaan kyk na Star Reverse van Linda Ann Strang wat pas verskyn het by Dryad Press en hoe sy ook werk met die weefwerk tussen wetenskap en mitologie.
http://joanhambidge.blogspot.com/2022/04/interview-with-linda-ann-strang-2022.html
Hierdie gedig is slim. En aangrypend.
Baie dankie, Mellet, vir die antwoord. Ek hou nou maar net van ‘n mitologie waarvan die gode hier tussen ons kan wees, en vir wie ek kan dankie sê vir brood, vir die janfrederik in die voëlbadjie teen skemeraand, vir seks en vir die twee kragte waarvan geslepenheid die een helfte is.