Foto: Hildegard Klein
‘n Insek is ‘n ongewerwelde, geleedpotige dier met 3 paar pote gedurende die volwasse stadium. Die meeste insekte het as volwassenes een of twee paar vlerke, maar sommiges is permanent sonder vlerke, bv. vlooie. Insekte gaan deur ‘n volledige metamorfose (eier, larf, papie en volwassene) of ‘n onvolledige metamorfose (eier, nimf en volwassene). Voorbeelde is kewers, skoenlappers en motte, vlieë, bye, miere, wespes, termiete, kakkerlakke, naaldekokers en mierleeus. Daar is ‘n ander groep geleedpotiges wat NIE insekte is nie, nl. spinnekoppe, myte, bosluise en skerpioene, wat die groep Arachnida uitmaak. Hulle het gewoonlik 4 paar pote, en is nooit gevleueld nie.
Jare gelede het prof. Erik Holm ‘n TV-program oor insekte gemaak met die naam “Insekgedrag menslik betrag”. Daar het later ook ‘n film met dié titel verskyn. Versindaba se nuutste kompetisie “leen” dié naam en sluit sodoende aan by die eko-digkuns wat plaaslik en internasionaal al hoe meer gewild word en toenemend die fokus word van literêr-teoretiese navorsing.
Kompetisiereëls
Versindaba wag kwatryne in waarin ooreenkomste tussen insek- en mensgedrag die tema vorm. Hoewel Arachnida nie insekte is nie, sal ons ook gedigte oor dié spesie aanvaar. Enige algemeen-aanvaarde variasie op die volgende twee kwatrynvorme mag gebruik word (sien skakels hieronder):
1 Persiese kwatryn (Ruba’i) https://en.wikipedia.org/wiki/Ruba%CA%BFi
2 Heroïese stansa https://en.wikipedia.org/wiki/Quatrain
Enige persoon mag ‘n gedig instuur wat sy/haar eie werk verteenwoordig. (Plagiaat is ‘n kriminele oortreding). Inskrywings is beperk tot ses kwatryne per persoon. Die Inhoudsbestuurder van Versindaba behou die reg voor om te besluit welke gedigte op die tuisblad geplaas word. Elke inskrywing (ongeag of dit op die tuisblad verskyn het of nie) sal vir die kompetisie in aanmerking geneem word. Slegs gedigte in Afrikaans of Nederlands sal aanvaar word. Slegs Nederlandse digters wat ʼn bankrekening in Suid-Afrika het, sal vir ʼn prys in aanmerking kom, aangesien ons nie fasiliteite het om prysgeld in oorsese rekeninge in te betaal nie. Nederlandse digters wat nie in aanmerking wil kom vir die prysgeld nie, is egter ook welkom om inskrywings te stuur.
Foto’s is baie welkom, solank dit nie groter is as 2MB nie en geen kopiereg betaalbaar is ne. (Wees dus versigtig vir foto’s wat van die Internet afgelaai word!)
Inskrywings sluit op 31 Mei 2022. Die digter van die wengedig ontvang R500 in prysgeld.
Elke inskrywing moet afsonderlik as ʼn Word-dokument by ʼn e-pos aangeheg word: Arial, 11-punt, dubbelspasiëring, asseblief. Inskrywings kan gestuur word aan die Inhoudsbestuurder van Versindaba by die onderstaande e-posadres:
Die film “Insekgedrag menslik betrag” kan by die volgende skakel gevind word:
https://www.worldcat.org/title/insekgedrag-menslik-betrag/oclc/638578565