Osip Mandelstam. Vertaling uit Russies via Duits in Afrikaans. Vert. Helize van Vuuren.
Blou kruikeryk, eiland van Kretensers –
het hul gawe hier gebak
in die galmende grond. En hoor jy die
dolfynvin-slae diep onder jou?
Hierdie see vloei so lig in herinnering,
in die klei, die vlamme tot vreugde:
die houer, met sy verkoelende krag –
tussen see en oog verdeel.
Gee terug my werk, my goeie
blou Kreta, wat eens vleuels gedra het –
en die bors van ‘n vloedgod
wat drink uit dié brandende kruik.
Alles was gesang en was bloute
voor Odysseus – en lank voor die pyn
toe spys en drank nuwe name
gekry het, van “myn” en “dyn”.
Word gesond nou, straal helder en roep –
hemelster, os-ogig staan jy daar –
met die toeval ‘n vlieënde vis,
en die water wat net een woord sê: Ja.
– Maart 1937
[Osip Mandelstam Nr 79, uit Die Woronescher Hefte. Letzte Gedichte 1935-1937. Aus dem Russischen übertragen und herausgegeben von Ralph Dutli. 2004. Vertaal in Afrikaans: Helize van Vuuren, 15 April 2022]
***
Blaues Töpferreich, Insel der Kreter –
Ihre Gabe die buken sie hier
In die klingende Erde. Und hörst du noch jenen
Delphin-Flossenschlag tief unter dir?
Diese Meer fließt so leicht ins Gedächtnis,
In den Lehn, den das Brennen erfreut:
Das Gefäß, seine kühlenden Mächte –
Auf das Meer und das Auge zerteilt.
Gib zurück mir mein Werk, du mein gutes
Blaues Kreta, das Flügle einst trug –
Und die Brust einer Gottheit des Flutens
Tränke nun diesen brennenden Krug.
All dies war ein Gesang und war Bläue
Vor Odysseus – und lang vor der Pein,
Da man Speisen und Trank einen neuen,
Diesen Namen erfand: “mein” und “dein”.
Nun gesunde doch, strahl schon und rufe –
Himmelsstern, du stehst ochsäugig da –
Und ein fliegender Fisch ist der Zufall,
Und das Wasser spricht ein Wort nur: Ja.
– März 1937
Nota: Mandelstam skryf sy laaste verse uit ballingskap in Voronesch, digby die grens met Ukraine, voor hy in Desember 1938 sterf in ‘n konsentrasiekamp, halfpad na Siberië. Die “blou-kruikvers” verwys na ‘n periode van skrywersblokkasie kort tevore, en hoe hy hier opnuut van ‘n opborrelende kreatiwiteit bewus word, in die “vlieënde vis” van die toeval. Hy assosieer dit met die Minoïese Hoogkultuur van 2000-1200 v.C., bekend vir hul kundigheid met die bak van blou, ryk-versierde kruike in die grond. Die Dolfyn was die sielebegeleider van gestorwenes na die doderyk of “Eiland van die Saliges”. Op die kruike en freskos uit die Minoïese tyd op Kreta, was die dolfyn ‘n belangrike ikonografiese element. Die os-ogige ster is die kwalifiserende aanduiding van Hera, die godemoeder (vir wie die koei die heilige dier was). In Russies is die woord vir water “voda”, en dit eggo die Russiese “da”, die woord vir “ja” (Dutli 2004: 346).
