Vertaalkunde is ʼn wetenskaplike terrein en vertaling is ʼn aktiwiteit wat deur vakspesialiste beoefen word. Literêre vertaling is ʼn spesialisterrein binne die Vertaalkunde en verg sowel kundigheid in vertaling as vaardigheid in die kuns van poësieskryf. Tereg word beweer dat net digters gedigte kan vertaal.
In die lig van die heersende debat oor die vertaling van gedigte, het dit nodig geword om reëls neer te lê vir die vertaling van gedigte wat aan Versindaba vir publikasie voorgelê word.
Dit is altyd verkieslik dat gedigte uit die brontaal (die taal waarin die gedig oorspronklik verskyn het) vertaal word. Daar is egter uitsonderinge op dié reël.
In die volgende gevalle is SLEGS vertalings uit die brontaal vir Versindaba aanvaarbaar:
Vertalings van gedigte wat oorspronklik verskyn het in
- een van Suid-Afrika se amptelike tale,
- alle Wes-Europese tale, hulle antieke vorme, taalvariante van dié tale of dialekte van dié tale,
- Skandinawiese tale,
- klassieke Grieks en Hebreeus en
- Latyn
Die volgende reëls geld wanneer vertalings uit die brontaal aan Versindaba voorgelê word:
- Die oorspronklike gedig moet die vertaling vergesel.
- Die volgende bibliografiese besonderhede moet die vertaling vergesel: Naam en van van die oorspronklike outeur; titel van die digbundel waarin die oorspronklike gedig verskyn het; bladsynommer waarop die gedig verskyn het; datum van uitgawe; uitgewer en plek van uitgawe. LET WEL: Internetskakels word NIE as bibliografiese verwysings aanvaar nie. E-boeke en PDF-weergawes van digbundels word as hardekopieë beskou en Internetskakels kom nie in die bronverwysings daarna voor nie.
- Vertalings van gedigte wat op enige ander wyse as in e-boeke of PDF-weergawes op die Internet verskyn, sal nie vir publikasie oorweeg word nie.
In die volgende gevalle is vertalings via ʼn oorbruggingstaal aanvaarbaar:
Vertalings van gedigte wat oorspronklik verskyn het in
- enige Oos-Europese taal,
- enige midde-Oosterse taal,
- enige Oosterse taal,
- enige inheemse taal van Afrika (buiten SA) en
- enige inheemse taal van Suid- of Noord-Amerika.
Die volgende reëls geld wanneer van ʼn oorbruggingstaal gebruik gemaak word:
- Die vertaler moet bewys lewer (in die bibliografie) dat hy/sy TEN MINSTE van twee of meer GERESPEKTEERDE VERTALINGS van ʼn betrokke gedig gebruik gemaak het, waarvan ten minste een van dié vertalings volledig geannoteer moet wees (d.w.s. ʼn volledige uiteensetting van vertaalstrategie moet die vertaling vergesel). Gerespekteerde vertalings is vertalings wat deur gerespekteerde uitgewers (meestal) in boekvorm uitgegee is. Verkieslik moet die vertaler vertalings van die oorspronklike gedig na meer as een taal raadpleeg. Vertalings op die Internet mag as addisionele hulp gebruik word, maar tel nie as gerespekteerde vertalings nie. Skakels na dié vertalings moet voorsien word.
- Die vertaler moet sy/haar vertaling volledig annoteer en ʼn volledige bibliografie van die bronne wat gebruik is, voorsien soos hierbo uiteengesit.
- Alle gedigte wat as oorbrugging gebruik is, moet die vertaling vergesel.
Die bostaande reëls sal toegepas word wanneer vertalings vir publikasie op Versindaba oorweeg word, maar, gegewe dat literêre vertaling ʼn kunsvorm is, sal uitsonderinge op die reëls in bepaalde gevalle oorweeg word. Alle eise wat aan oorspronklike poëtiese tekste gestel word, sal aan vertaalde gedigte gestel word, tesame met die eis van getrouheid aan die bronteks.
– Marlies Taljard (Inhoudsbestuurder: Versindaba)