Anton Dockel. Warmbron
Warmbron
In die koudvat van die oggend
as die water nog wasemhaal
sal almal met dieselfde badbehoefte
net koppe wees wat op die water dryf
wat sydelings rondloer
reg om nader te swerm
as ’n Bethesda-oomblik
waters naby hulle roer
Anderkant die poel
waar die rivier
in sy kloof wegglip
lê nog spore van
toentertydse toeriste:
Ysterlere vasgebout, klim
na die skerm van ’n bakkrans
oorgeverf
met graffitti se bont plakpapier
Draai jou rug daarop –
bekyk uit die berg se kreukels
die bron se oog met jou oog.
Terwyl gekke en dwase
oor jou skouers loer
tongklik daar uit nog vroeër tye
dalk die weemoed van ’n ‘nxa’
oor die hotel, palmbome,
plaveisel en in glasvesel
die waterslang
© Anton Dockel, 2022