Opruiming 3
Met die maat wat jy meet, sal jy gemeet
word, waarsku die ou Idiomeboek, geel
gevlek deur tyd en aanpaksels dog heel.
‘n Lykskleed het geen sakke nie, jy weet.
Met die meet van dié maat, sal jy wéét.
Opruiming 4
Hoe skryf mens ‘n lykdig vir ‘n kantoor?
Waar plaas jy ‘n “in memoriam”
vir dié vesting van meer as 20 jaar?
Soveel treurverse en funeraire verse
vir geliefdes, bekendes, selfs diere.
En nou vir ‘n ruimte, ‘n plek?
Maar hierdie kantoor 4.16.7 dra
boekmerke, vingerafdrukke, letsels
van my bestaan: ek ken jou, jou ken ek.
Pakplek, veral ‘n stil getuie
van dekolonisasie, Dag O,
waterbesparing tot après le déluge:
#RhodesMustFall, #FeesMustFall,
Shackville, tot die virale oorlog,
almal gemasker onkant betrap.
Daar het ‘n brand gewoed, rakelings
hierdie kantoor net-net gemis:
‘n treurende boom swart gevlek.
Stil getuie van somber tye.
© Joan Hambidge, 2022
Staan versteld voor die vormbeheerde verpakking (soos die oppak self, dalk) van wat duiselende belewing moet wees. Hambidge op volle toere.
Onverwags gister Shaun de Waal gelees in Carapace se reeks “On Poetry”. Baie daarvoor en daaroor en daarteen te sê, maar dit is die idee dat poësie ons deur hekke van yster moet kan help in hierdie lewe (ja, ekskuus) waaraan ek met die lees van hierdie gedigte herinner is.
“I want to be intrigued, enchanted, baffled. If poetry is the most concentrated form our language can take, then anything less than the best, the most personally challenging, isn’t worth bothering with. I decline to review poetry, because the worst gives me a headache and the best is unfathomable. I read it only for pleasure, and in this instance I need that pleasure to be difficult. Or it’s no use in helping one get through the iron gates of life.” (Carapce 47, p. 28)