Opruiming 5
Vanoggend vlieg twee kraaie ongenooid
in my motorhuis vol bokse met boeke:
”Opgaarder en sentimentalis”, skryf
‘n vriendin aan my tydens háár opruiming.
Sonneklaar die titel van my memories
oor ‘n lewe nou verpak rondom reise,
vergaderings, lesings, dispute, resensies,
opnames vir radio en TV: berigte-te-velde.
Wyl hierdie vers ontsluit kyk twee digters toe:
Leipoldt en Marais langs boeke oor die boereoorlog.
Vir ironie is daar ‘n hanger leeg wat verder skel:
“Vat jou goed en trek, Ferreira!” vir swaardra
al aan die een kant, Joanie-met-die-hoepelhart.
Met jou spotter gaan jy na bed: ‘n lewe-in-woorde
nou in ‘n ander ruimte staangemaak, opgemaak,
opgestapel, weggepak; wetend poësie inderdaad
‘n teenstelling tussen stille geweld van binne
wat glo beskerm teen durende geweld van buite.
Glashelder was Wallace Stevens se dictum toe.
Dertien lysters by hom; twee swart kraaie by my.
© Joan Hambidge, 2022