Aankoms
(vir die meisie in blou)
wanneer jy kom
sal dit somer wees
teen skemeraand
met stilte om die huis
met verder af die voëls wat sing
maar gedemp
in die skemerte van hierdie spesiale aand
en ek sal jou uitlei na die stoep:
die sjampanje is klaar geskink
jy sit aan by die ronde tafel
en teen die oorhang begin die bamboesstingels saggies klingel
in die binnehuis speel Cassals op sy tjello
en ek vat jou hand
by die houttafeltjie in die skemerlig
ek leun vorentoe en ruik jou trui
en jy droog met jou trui die druppels af
die druppels op my wang
want dit sal liggies reën
wanneer jy uit jou motor klim
ek druk die knoppie weer en Ronan Keating
wat só lank gewag het
lig sy kitaar omhoog tree vorentoe en
sing:
it’s amazing
how you can speak straight to my heart
na soveel jaar
na sóveel jare
net vir ons
en niks sal ooit weer nie amazing wees nie
Hierdie gedig – ’n inskrywing vir die jaarlikse AVBOB Poësiekompetisie – is in die AVBOB Poësiebiblioteek gepubliseer, en word herpubliseer met toestemming van die AVBOB Poësieprojek. Klik hier om toegang tot meer as 17 000 gedigte in al 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale te kry: https://www.avbobpoetry.co.za/Poem/ViewAll