Joan Hambidge. Opruiming elf
Opruiming elf
Oor implikasie en trefhandeling, daardie glybaan
waarop sy haar bevind, ‘n reddende korrektief?
Ons markante verskille ten spyt, hierdie brief
geskryf vóór sonsopkoms, ‘n verlange na jou,
skrywer van Mirakel en muse, meester van sub-teks
en primordialiteit. Jy sê wat daar nie staan nie.
Nou beweeg ook ek buite die grense bekend:
die ongerymde, jou hele lewe ‘n lank-voor-kort,
‘n soeke na die een mens vir vervullende begrip.
Allamatjiesgoed, genugtig, nee, bly eerder stil.
In Beaufort-Wes sou jy teen latenstyd klankkundig
luister na Schubert en vertolkings van die tussenstaat.
In die hemel, spot jy eenkeer, is daar musiek volmaak.
Horende doof sal selfs die spotters ‘n weg baan
tot een-wording met die groot Kenner van die Woord.
© Joan Hambidge, 2022