Joan Hambidge. Natuurverse

 

 I

 

Afrikaanse natuurpoësie,’n bloemlesing deur P.J. Nienaber en F.V. Lategan verskyn in 1968.

Vandag etlike dekades later is die Afrikaanse digkuns ekologies bewus en verskeie digters skryf oor die natuur en hoe die aarde onder enorme druk verkeer. Nienaber en Lategan se bloemlesing is ‘n belangrike vertrekpunt. Hierna verskyn daar etlike ander tekste soos Johann Lodewyk Marais se Groen: Gedigte oor die omgewing (1990) en die bloemlesing saam met Ad Zuiderent Ons klein en silwerige planeet in 1997.

 

Verskeie literatore skryf eweneens gesaghebbend oor eko-tekste soos Erika Lemmer en Susan Smith. In die digkuns is daar toenemend digters wat oor die natuur en die ekopolitiek skryf. Al die veld is nie langer vrolik nie.

Ekokritiese poësie is die politiek van die natuurgedig. Soos Mans dit tereg sien:

Ekokritiese poësie kan as ’n vertakking van natuurpoësie gesien word. Dit het dus uit natuurpoësie ontwikkel, maar tog kan dit van natuurpoësie onderskei word. Dit kan onderskei word omdat ekokritiese poësie meer klem lê op die verbintenis tussen die menslike en niemenslike lewe tydens die tydperk van ongeëwenaarde antropogeniese skade wat aan die omgewing aangerig word.

 

 

Maar ‘n natuurvers is dikwels meer as ‘n natuurvers. Dit representeer eweneens ‘n digterlike en persoonlike reaksie op ‘n omgewing. Die sogenaamde pastorale gedig gee ‘n romantiese blik op die idilliese omgewing. Ons dink byvoorbeeld aan Thomas Gray se “Elegy on a Country Churchyard” (1750) en die ryk skat van natuurverse by Leipoldt onder andere.

In hierdie kort besinning gaan ek fokus op twee verse van die digter Johann de Lange en aantoon dat die natuurvers ‘n soort binne-dagboek en terselfdertyd ‘n besinning word oor die digkuns.

 

II

 

 Geel dag

Kusdorpe met sonsoet lemoene en immergroen

boorde, met die vol uier van die somer,

sorgelose oes van die donker aarde.

Soggens as die krewe rooi op die dekplanke lê,

as die ou mans bier drink saam met vis

en suurlemoen, en die vissersbote fluit

op die bedrywige see, dan weet ek:

ek kan maar net by benadering leef,

net die voortekens van die volheid weet,

net ruweg ken die moeitelose skoonheid

van hierdie dag: die smal hawens, kerkies,

die kloosters met binnehowe vol blomme en ‘n put,

die geweldige rooi lewe van papawers

teen ‘n ou kalkmuur. Dank God ek is ook hier.

(Snel grys fantoom)

 

In die gedig “Geel dag” is daar ‘n beskrywing van die Umwelt: die gedig word gesitueer in ‘n kusdorp met sonsoet lemoene en immergroen boorde. Die bestaan is hier idillies én ongekompliseerd. Daar is ‘n sorgelose oes en almal leef na aan die natuur waar daar krewe gevang word. Die ou mans drink bier saam met die vis; teen die agtergrond is die vissersbote steeds werksaam op ‘n bedrywige see. Hierdie personifikasie beklemtoon die stryd van die mense ten spyte van die idilliese skets.

Die spreker is egter afgesluit van hierdie bestaan. Hy is buitestaander, dog kortstondig deel hiervan. Dit is asof hier sprake is van ‘n geromantiseerde kusdorp:  dalk ‘n Griekse dorpie met sy moeitelose (natuurlike) skoonheid, asof ons hier kyk na ‘n plakkaat: smal hawens, kerkies, kloosters (vol binnehowe en ‘n put). Veral die rooi papawers herinner aan ‘n vreemde landskap – en die dood. Die papawer is immers simbool van die veldslae van die Eerste Wêreldoorlog. Die digter dank God omdat hy ook hier is – hy word egter deur die verbeelding, met ander woorde, deur die gedig deel van hierdie landskap. Die epifaniese oomblik is dus opgesluit in die ver-beelde oomblik wanneer daar kortstondig jouissance ervaar word.

Tog:

 

ek kan maar net by benadering leef,

net die voortekens van die volheid weet

 

Die eenwording met die natuur is ‘n illusie. Hoewel hy God dank dat hy hier is, weet die leser dat hy buite alles bly.

Die epifanie het met woordgebeure te doen en teofanie met openbaring in die natuur. Die teenoorgestelde van die epifaniese moment is dus die verhuldheid van God se gesig (aangesig) of die onvermoë om tot insig of vervuldheid te kom.

Hiërofanie is ‘n manifestasie van die heiligheid soos onder andere in Sheila Cussons se religieuse gedigte. In die Hindoe-godsdiens heet dit Darśana, oftewel visioene van die heiliges.

In die gedig “Laatherfs” word die natuurgedig ‘n toespeling op N.P. van Wyk Louw se bekende “Vier gebede by jaargetye in die Boland”, en meer spesifiek “Vroegherfs”. De Lange se vers is ‘n palinode van Louw se gebed. 1. Die  “onsigbare” wat voltrek word, is die heelwording in die gesprek met die oorspronklike teks van Louw.

 

Laatherfs

1

Die dag krimp. Die klok lui stroophelder.

Die ouspens is boordensvol bottels.

Vonkend ver val die laaste blare

in goue suites, kry vergete

boeppense wyn baard in die kelder.

Die knus kombuis is skepvol skottels

heuning, room en deeg. Voëls in pare

verlaat hul neste onder geute.

 

Die bloed raak dun in die are,

in die mik verdor die bruin vy.

Reeds voelbaar winter se venyn,

die yl musiek van die snare.

Nou raak ook woorde skaars. Verby

met liefde, kort seisoen van pyn.

 

2

(Nuwemaan)

 

Pynig my hierdie ligtende dae,

blare blakerend teen die koue lug,

die suiniger geel van suurlemoene.

Winter sweis my uitgedeelde herfs

in witter strakker dae vas.

Die druppel wat te lank

versuim het aan die kraan

verys. Die swaels se uittog is verby.

lets onsigbaars word voltrek.

(Snel grys fantoom)

 

In die digkuns van De Lange vind die leser ‘n voortdurende spanning tussen stolling en beweging. Hierdie proses word beeldend voorgestel en ‘n titel soos Wordende naak dui dan op ‘n proses van transformasie wat tot helderheid of selfinsig moet oorgaan.

Maar in hierdie natuurverse is die natuur nie ‘n pastorale idille nie. Dit werk met Louw se tekste en met Montale se “Die suurlemoene”. vertaal deur De Lange. 2.

‘n Natuurvers hier handel oënskynlik oor die natuur, maar word ‘n ingewikkelde spel met ander digters en gedigte. Dit word eerder ‘n komplekse ars poetica. Uiteindelik moet die leser self besluit of dit palinode of parodie is? Teensang of spotpraat? Epifanie of teofanie?

In Montale se woorde:

Dit is in hierdie stiltes
wat jy in elke vlietende menslike
skaduwee iets sien van ’n verstoorde Goddelikheid.

 

Bibliografie

 

De Lange, Johann. 1986. Snel grys fantoom. Kaapstad: Human & Rousseau.

Wordende naak. Pretoria: Haum-Literêr.

Jung. C.G. 1969. On the Nature of the Psyche. Princeton: Princeton University Press.

Mans, Zelda. 2021. ’n Geheelbeeld op die oeuvrebydrae van die digter Johann Lodewyk Marais ten opsigte van natuurpoësie en ekokritiese poësie.

https://www.litnet.co.za/n-geheelbeeld-op-die-oeuvrebydrae-van-die-digter-johann-lodewyk-marais-ten-opsigte-van-natuurpoesie-en-ekokritiese-poesie/ Besoek 14 Julie 2022

Nienaber, P.J. en Lategan, F.V. 1968. Afrikaanse natuurpoësie. Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel.

 

 Endnoot:

1 Vroegherfs

Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.

 

https://boereafrikana.com/Mense/Digters/NPvanWykLouw/Vroegherfs_NP_van_Wyk_Louw.html Besoek 15 Julie 2022

 

2 Die suurlemoene
Eugenio Montale

Luister na my, die prysdigters
beweeg slegs tussen plante
met rare name: palissander, liguster en akant.
Maar ek verkies paaie wat lei na grassige
slote waar seuns
’n paar verhongerde palings
opskep uit halfdroë poele:
paadjies wat met die oewers langs loop,
af tussen die rietpolle deur
en eindig in boorde, tussen die suurlemoenbome.

Beter as die gekwetter van die voëls
stil raak, ingesluk deur die blou:
nou kan ons meer hoor van die fluisteringe
van vriendelike takke in nie-heeltemal-stil lug,
en die gewaarwordings van hierdie geur
wat sigself nie kan losmaak van die aarde nie
en ’n rustelose sagmoedigheid in die hart laat neerstuif.
Hier, deur een of ander wonderwerk, kondig die oorlog
van troebel drifte’n wapenstilstand aan;
hier kan ons armes ook ons deel van die rykdom kry,
wat die geur is van die suurlemoene.

Kyk, in hierdie stiltes waar dinge
oorgee en op die rand skyn te wees om
hulle finale geheim te verraai,
voel ons soms ons is op die punt
om ’n fout in die Natuur bloot te lê,
die stil punt van die wêreld, die swak skakel,
die draadjie wat, eers losgetorring, eindelik sal lei
na die hart van ’n openbaring.
Die oog neem sy omgewing in,
die verstand bevraagteken orden verdeel
in die parfuum wat uitgesprei word
wanneer die dag op sy lomerigste is.
Dit is in hierdie stiltes
wat jy in elke vlietende menslike
skaduwee iets sien van ’n verstoorde Goddelikheid.

Maar die illusie faal, en tyd bring ons terug
na lawaaierige stede waar die blou
net gesien word in kolle, bo tussen die dakke.
Dan put die reën die aarde uit;
winter se eentonigheid lê swaar op die huise,
die lig raak suinig – die gees bitter.
Tot op ’n dag deur ’n halfoop hek
in ’n binnehof, daar tussen die bome,
sien ons die geel van die suurlemoene;
en die kilte in die hart
smelt, en diep binne ons
blaas die goue beuels van sonlig
hulle liedere voluit.

[Vertaal deur Johann de Lange]

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=montale Besoek 15 Julie 2022

 

Joan Hambidge Kaapstad Julie 2022

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*