I
In my ongepubliseerde bundel Op die keper beskou (voltooi 2020) staan ‘n gedig oor Dar-es-Salam, ‘n bundel met ekfrastiese verse.
Dar-es-Salaam: Pierneef
Die stad van vrede wat jy hier betree,
onthou sy vir die lang reënvalle
met oorrompelende sonsondergange.
In hierdie skildery sien die kyker,
verbeeldend, ‘n wêreld vergange.
Is die twee vroue sy (en haar voor-
malige geliefde) ontdekkend, soekend
in Upanga en Kisutu, in Swahili, na stilte?
In watter tyd metafisies of emosioneel
het die skilder dít so volkome beleef?
Dit word alles in ‘n ander tongval ópgehef,
met nog ‘n afdruk in iets nou nes verlange.
Volgens navorsing was die skilder hier in 1926.
In 1923 – 1924 besoek Pierneef die ou Suid-Wes-Afrika. Die invloed van Anton van Wouw, Hugo Naude en Frans Oerder is al uitgewys in sy werk en ons ken sy bekendste werke: Die kremetartboom (1934).
en Somersmiddag, Bosveld (1928).
Op die voorblad van die AVBOB-projek- nommer 4, onder redaksie van Johann de Lange en Rethabile Possa-Mogoera staan Pierneef.
https://www.loot.co.za/product/johann-de-lange-i-wish-i-d-said-volume-4/hfts-7328-g500 Besoek 20 Julie 2022.
Pierneef is al dikwels om politieke redes gekritiseer en soos ‘n kritikus, Robyn Sassen uitwys:
Each painting sings to you the songs of this country’s natural gorgeousness but, as you walk by, the main effect is the silence of the works. It is only the very early pieces, produced in the 1920s in Europe, when Pierneef was a young man learning the craft of his art, that people appear. It is a curious reality that the work that Pierneef created at the height of his prowess are supremely unpopulated. He didn’t celebrate South Africa’s people, he celebrated the land itself.
https://mg.co.za/article/2015-09-04-pierneefs-people-less-power/ Besoek 19 Julie 2022
Tog soos kunshandelaars uitwys, bly hy belangrik soos Irma Stern. Dit is tersaaklik om die persoonlike ideologie van die kunstenaar te skei. Dit wat hy as landskapkunstenaar vermag het, bly tersaaklik en ikonies.
https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/kuns/veiling-vat-jou-op-reis-saam-met-pierneef-20220708 Besoek 19 Julie 2022
Die belangstelling in sy werk gaan so ver terug as Toon van den Heever met sy vers “Aan Pierneef” opgeneem in Eugene en ander gedigte. (Pretoria: J.L. van Schaik, 1961. Vyfde druk). Dit is eweneens bekend dat Van den Heever bevriend was met Pierneef en April 1923 het hy by hom tuisgegaan in Windhoek. Hierdie besoek het tot belangrike kunswerke gelei en Pierneef, die landskapskilder, was as reisiger op soek na inspirasie.
Tot so onlangs as met Dominique Botha se bundel gedigte (wat sy onder andere onder my mentorskap voltooi het) vind ons Pierneef op die twee buiteblaaie van Donkerberg/Bloodwood. Die bundel verskyn in sowel Engels as Afrikaans en is ‘n voortsetting van haar roman Valsrivier.
‘n Soort tarotkaart? Na bo en onder met verskillende betekenisse?
Oor Botha se natuursimboliek skryf Nini Bennett insigryk op Versindaba.
https://versindaba.co.za/2022/07/20/nini-bennett-die-natuursimboliek-in-valsrivier-en-donkerberg-van-dominique-botha/ Besoek 20 Julie 2022
II
Loftus Marais parodieer hom in sy bundel Jan, Piet, Koos en Jakob (Human & Rousseau, 2019) “Die bosveldbome van Jacobus Hendrik Pierneef” (58) waar die landskap verpersonifieer word:
tog halwe haarstyl, yl, nes meeste kuns maar
comb-over oor die verlatenheid
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=loftus+marais Besoek 19 Julie 2022
AVBOB, Dominique Botha, o.a. wat hierdie leser laat wonder waarom nou so opvallend aanwesig? Is dit ‘n verlange na ‘n ongeskonde natuurskoon? ‘n Soort idille in ‘n land waar die platteland daagliks deur waterskaarstes, plundering en onbegaanbare paaie verwoes word?
Dalk ‘n representasie van ongeskondenheid?
Pierneef (1886 – 1957) is ‘n beduidende landskapkunstenaar. Gebore in Pretoria van Hollandse en Afrikaanse ouers en aanwesig in vele kunsgalery en korporatiewe versamelings. Die Boereoorlog het ‘n bepalende invloed op hom as kunstenaar gehad, omdat sy ouers moes terugkeer Nederland toe. Hier het hy aan die Rotterdamse Akademie kuns bestudeer.
Dit is egter sy besonderse vermoë om stilte en verlatenheid te representeer, wat van hom ‘n uitstaande kunstenaar maak.
Een van die aangrypendste gedigte oor hom is deur Eunice Basson, ‘n kunskenner wat in haar tweede bundel By die dag (Protea, 2020) soos volg oor hom dig:
Pontdrif, Limpopo, Junie 1956
Na ’n potloodtekening deur JH Pierneef (1886–1957)
Sy hartland is hierdie boswêreld
waar hy vroegdag, in sy element,
met ’n leersak potlode en kryt gaan sit,
pyp stop, bewus van ’n kolonie muishonde
wat elke beweging uit die verte bespied
soos hy die veld in grafiet belyn,
met ’n seker hand nuwe lewe gee aan drie,
vier apiesdorings in ’n oopte, omring
deur grysappel, blouhaak en witsering.
Later sal hy nog hier en daar ’n tak ligweg arseer,
terugstaan, hom hierdie toneel bly indink,
moontlik in kleur, op ’n groter doek getransponeer
in sy stil ateljee waar hy die boskorhaan
en kwêvoëls van dié oggend weer wil hoor roep.
http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=eunice+basson Besoek 19 Julie 2022
Hierdie verruklike vers aktiveer die stilte en die geluide van die eg-Suid-Afrikaanse natuur:
in sy stil ateljee waar hy die boskorhaan
en kwêvoëls van dié oggend weer wil hoor roep.
Met belyn en arseer as die twee belangrikste kodewoorde.
Net soos transponeer. Met die binne-wêreld teenoor die buite-bestaan.
Miskien juis omdat hy as buitestaander kon terugkeer, kon hy iets van die landskap artikuleer in sy werk.
Joan Hambidge
Kaapstad Julie 2022
Bibliografie
Botha, D. 2021. Donkerberg/Bloodwood. Johannesdal: Dwarsrivier-Uitgewers.
Vir ‘n volledige verslag van beeldverse in Afrikaans:
http://johanndelange.blogspot.com/2012/09/ekfrasis-oftewel-die-beeldgedig-in.html Besoek 19 Julie 2022
Ek besoek Namibië na my moeder se dood:
Namibië: Pierneef
In hierdie landskap van sonlig en verby sterre
hang die wolke dragtig, ‘n reënvoorspelling.
Ek onthou haar hande wat troostend toevou:
my trane newel oor my moeder in dié tydsgewrig.
Verbeuselde ervarings, verdrietige afleggings
soos ‘n naderende storm, fel en kortstondig;
tot die lug weer helder en skoon oopvou:
op ‘n oggend lug en berge weer in ewewig.
Op die keper beskou.
Baie interessant, ook die verwysing na “Donkerberg/Bloodwood” se omslag as moontlike Tarot-kaarte. Die berg en boom as mekaar se omgekeerde Ander. In die Rider Waite-pak alleen kom die berg in ongeveer 20 kaarte voor, terwyl die boom (in bg geval ‘n treurwilg) eweneens dikwels figureer. Soveel simboliek. Die berg as argetipiese struikelblok; die boom as simbool van menslike ontwikkeling. En natuurlik die opoffering geassosieer met die Gehangde Man. Ensovoort.