Marthé McLoud. Die gesig van oorlog

 

Die Gesig van Oorlog

(Besoek aan Viëtnam)

 

Ons reis verby rysvelde na die dieptes van engtevrees

waar slang, spinnekop en skerpioen krioel.

Hier het soldate soos akkedisse op hul mae

in ondergrondse tonnels in-en-uit blaarbedekte gate geseil.

 

Maak vir my ruimte in dié doolhof van vrees

en bloed, want in myself het ek dit te nou om

gebreklikes van die maanlandskap-gif

in die museum te gaan aanskou.  Twee koppe een lyf.

 

Ons reis verby rysvelde na die dieptes van vrees

en in myself het ek dit te nou want Bosoorlogbeelde

bly in my klou.  Sy brief. Sy maats.

En hoe hulle die ratel agterna moes skoonmaak.

 

© Marthé McLoud, 2022

 

Bookmark and Share

Los kommentaar

 

*