Om die stilte te verplaas
‘n Brief of e-pos verplaas glo
stilte, staan dit opgeteken
in ‘n brief wat stof vergaar.
Alleen in mijn gedichten
kan ik wonen, só meen
Slauerhoff ten regte-onreg.
‘n Lyn van akkoord vandag:
onder in die straat verval
met bure se gekletter en -kraak.
Die stad het geen voetholte meer.
Orals stryd en konflik ónopgelos.
‘n Restaurant onder restourasie.
Tente van haweloses ontsier
nes papiere en vullis en blikke
on-metries dreun met beurtkrag.
In hierdie dae wonder ek tog
of die digkuns ‘n ruspunt bied?
‘n Unifikasie vir Cleanth Brooks.
Die taal van paradoks oorval my.
Wat ons hier mag bedoel, mis
die hereweet, die doel finaal.
Hoekom of straataf ‘n hoek-
om toe ek die dubbelbas laat
opklink met nog ‘n dubbel-maat.
© Joan Hambidge, 2022
