I
Die Britse psigoanalis en teoretikus Jacqueline Rose het studeer aan Oxford, die Sorbonne en ook aan die Universiteit van Londen. Tans is sy verbonde aan die Birkbeck Instituut (Geesteswetenskappe).
Haar analise van Marilyn Monroe is ‘n kragtoer. Die slim blondine wat moes dóm speel teen haar sin.
Almal kon sien Tony Curtis en Jack Lemon is mans in vroueklere, maar sy moes maak asof hulle vroue is toe sy saam met hulle opgetree het in Some Like it Hot.
https://soundcloud.com/britishmuseum/jacqueline-rose-on-marilyn-monroe Besoek 9 Oktober 2022
Een van Rose se mentors was Frank Kermode, ‘n besondere teoretikus, en sy is eweneens bekend vir haar werk oor Lacan. Haar studie Jacques Lacan and the école freudienne is ‘n bakenteks.
Die belangrikste bydrae vir hierdie leser deur Rose is haar opmerking oor Freud se mees fundamentele ontdekking: “That the unconscious never ceases to challenge our apparent identity as subjects” (Rose, 1985: 30).
En dis hierdie onverpoosde terugkeer van die onbewuste wat van belang is en ons terugneem na die Freudiaanse Ichspaltung (1985: 31).
Ook dat taal geen finale waarborg bied nie.
Rose het eweneens bekendheid verwerf vir haar roman Albertine (2001), ‘n antwoord op Proust se beroemde Ā la recherche du temps perdu. En natuurlik vir haar studie oor Plath: The Haunting of Sylvia Plath (1991). Haar analise van “The Rabbit Catcher” is deur Hughes as kontensieus afgemaak. Die debat oor die verhouding tussen Plath en Hughes is deur verskeie biograwe (o.a. Janet Malcolm) en teoretici al beskou. Eenduidig was hierdie verhouding nie, soos Alvarez inderdaad aantoon in The Savage God.
Plath was ‘n komplekse digter en vrou. En ons analiseer haar deur haar gedigte, die briewe aan haar moeder en die vele studies oor haar lewe.
“The Rabbit Catcher” se slot lui as volg:
And we, too, had a relationship—
Tight wires between us,
Pegs too deep to uproot, and a mind like a ring
Sliding shut on some quick thing,
The constriction killing me also.
https://allpoetry.com/the-rabbit-catcher Besoek 15 Oktober 2022
Janet Malcolm in The Silent Woman reageer op Anne Stevenson se biografie: Bitter Fame.
Die film oor Plath in 2003 Sylvia (met Gwyneth Paltrow en Daniel Craig in die hoofrolle) navigeer hierdie komplekse en destruktiewe verhouding. Christine Jeffs was die regisseur.
II
Plath is ‘n sterk aanwesigheid in my digkuns. Sy staan opgeteken in Hartskrif (1985), Die verlore simbool (1991), Interne verhuising (1995), Meditasies (2014) Indeks (2016) en daar is ‘n vertaling opgeneem van “Morning Song” in Sanctum (2022).
In Die verlore simbool stel hierdie skrywer haar aan die woord.
Sylvia Plath aan Ted Hughes
‘n Fiktiewe brief
Vanaand is dit presies dertien maande ná ons bloedige skeiding:
van jou kry ek niks meer as die maandelikse onderhoud,
enkele gepubliseerde verse in tydskrifte – en dieselfde herinnering.
Hoe kan jy, durf jy, apart van my leef, my genadeloos agterlaat?
Dit wyl ons één was – ritmies aan mekaar se donker psiges verbind:
Soggens skryf jy, snags ek; of omgekeerd as die muses ons verlaat.
Frieda en Nicholas het jou genadiglik afgesterf (soos dit tog hoort).
Soms verbeel ek my haar sketse is vol voëls, arende en sluwe jakkalse.
Sy het immers ook eens aan jóú, haar stroewe, briljante vader behoort.
Met jou weggaan het ek ‘n deel van myself vir immer en altyd verloor.
Jy wat ons liefde aan die ewigheid, ja, die sterre en planete, opgedra het
ek sien jou daagliks in vele vorme aan my verskyn in ‘n kil woordverhoor.
Eens was dit pynlik om te dink jou liggaam (mý liggaam) is hare
– ek mis of ruik nie meer jou lyf; maar dít waarvoor jy staan.
In die groot geheel sien ek ‘n deel van jou: jou stem roep in die blare …
Eendag wanneer ons weer praat, sal ek by jou hoor, jou reguit vra:
hóé jy elke herinnering – die eentonige draers van verlies –
so ooglopend, maklik, moeiteloos, makelloos, matig, minsaam kon verdra?
Op daardie dag sal ek by jou verneem – sonder woede of verwyt –
Hoe sý jou donker demone se uitspruitsels op papier kon begryp?
Was jy ooit na ons skeiding (lank en uitgerek) werklik spyt?
Dit is my allerlaaste aanklag, Ted, ek beloof.
So lui die vers in Meditasies:
Om Sylvia Plath te dissekteer
In die argeologiese museum
van my veelbewoë herinnering
onthou ek hoe ek as jong kind
jou “Morning song” hardop lees.
Sien hoe jy oormoeg luister
na jou kind se eerste klanke:
toe reeds het iets ingetree.
In my klein wit kopie van Ariel
staan in vet letters geskryf:
skryf sy oor Nicholas of Frieda?
Of oor die geboorte dalk
van ’n gedig wat onherroepelik
’n lewe buite die digter ópeis?
Ek was kwalik sestien toe –
dalk jonger: my potloodskrif glimmer
sag op, hard af, sag op, hard af.
Hoé hardhorend was almal nie om
jou: in elke brief na jou moeder
’n verslag van eensaamheid,
en dit wat jy opsluit wou vermy:
’n tweede weggaan, afwys, wegstuur…
Maar jy was afgerig vir dié soort
ding: jy het stilweg jou los-
gemaak van hom, jou kinders,
vir oulaas ’n brief huis toe gepos.
Die posman, helaas het soos ’n kritikus
dit geweeg en te swaar bevind:
terstond return to sender opgeplak,
maar daar was geen terugkeeradres:
net die reuk van gas by ’n skeurtjie.
Na ’n gedig van Billy Collins (“Taking off Emily Dickinson’s clothes”)
In Indeks word sy as volg besing:
In die tuin van Emily Dickinson
In haar boomryke, lowergroen tuin
het Emily D glo daagliks
geluide van voëls ingeklank.
Hier het sy in háár tuin van geluk,
soos Judith Farr beduie,
die ruimskootse verband tussen dig
en tuinmaak beleef: liefde teenoor haat;
nyd teen deugsaamheid; dood en ewigheid
in blombeddings ingespit.
Wildevygies, jasmyne en madeliefies
geplant. En daagliks ‘n ruiker
vir haarself gepluk. En elke blom
– selfs die katjiepiering –
in blomensiklopedieë opgesoek
– klokblom, koningsklokkie, arendklou –
en die Webster se akkers hierna verken
soos ‘n reisiger in ‘n vreemde land
haar direktief opteken. Elke
simbool nougeset, sekuur herken.
O enigmatiese vrou in jou wit rok,
jou tuin het ek in die lente besoek:
hier gestaan en gewonder
of jy ooit in die Tuin van Ewigheid
met die ánder tuinier van Amherst praat,
met haar, Sylvia Plath, wie se dood
soos ‘n swart aronskelk bly blom?
In Sanctum word ‘n vertaling opgeneem:
Oggendlied
Sylvia Plath
Liefde sit jou aan die gang nes ’n duur goue horlosie.
Die vroedvrou klap jou voetsole en jou skerp gekrys
neem ’n plek tussen die elemente in.
Ons stemme eggo en amplifiseer jou aankoms. ’n Nuwe standbeeld.
In die koue museum word jou naaktheid
’n silhoeët van ons veiligheid. Ons staan rond soos leë mure.
Ek is net so min jou moeder
as die wolk wat ’n spieël distilleer om sy stadige verdwyning
deur die wind se toedoen, waar te neem.
Die hele nag lank, flikker jou asemhaling vlinderagtig,
neffens die nagemaakte pienk rose. Luisterend word ek wakker:
’n verre see beweeg in my oor.
Een geluid en ek strompel uit my bed, koeiswaar en fleurig
in my Victoriaanse nagjurk.
Jou mond gaan oop, skoon soos ’n kat s’n. Die vensterraam
verbleik en sluk sy dowwe sterre in. En nou repeteer jy
aan jou hand vol note;
die helder vokale styg óp soos ballonne.
“Oggendlied” is ’n vertaling van Sylvia Plath se “Morning Song” (Ariel, 1965).
III
‘n Kier is die smal opening tussen ‘n deur wat nie heeltemal toe is nie, en die kosyn.
Waarom Plath uit verskillende hoeke beskryf en beskou?
Haar taalvaardigheid, maar ook haar komplekse verhouding met haar moeder, met geliefdes, gevoel van abandonment, reis na ‘n verre landskap waar sy nog meer vervreemd voel …
Dalk ‘n soort Lolerei en muse.
In my argeologiese museum dan: Plath lees ek as jong skolier en iets in haar beelde som my bestaan van displacement en onsekerheid op.
Soos Anne Sexton en Elisabeth Eybers (met die beproefde patologie van poësie) is dit die stem agter die gedigte wat betower. My potloodaantekeninge verklap alles. “Morning Song” het ek voorgelees vir myself en gewens ek kon so dig.
Freud se essay Das Unheimliche (1919), die sogenaamde “uncanny” is tersaaklik:
Von der Einsamkeit, Stille und Dunkelheit können wir nichts anderes sagen, als daß dies wirklich die Momente sind, an welche die bei den meisten Menschen nie ganz erlöschende Kinderangst geknüpft ist. Die psychoanalytische Forschung hat sich mit dem Problem derselben an anderer Stelle auseinandergesetzt.
Die eensaamheid, stilte en troebelhede van my jeug het Sylvia Plath vertolk.
Daar was niemand met wie hierdie subjek toe kon praat nie. Daar was net digters in die skoolbiblioteek.
Hierdie palinode dan vir Plath:
Esse
Die afgryslike koorddans
oor die hoë af-
grond
om net te wees
soos my duim, klein homunkulus
opkomende maan
onder dié nael
getuie van my gevoelens
se veranderende getye.
Oog, alsiende regter
van my lewe:
binnewaarts bloei
dit steeds.
(Interne verhuising, 1995).
Joan Hambidge
Oktober 2022
Bronne:
Alvarez, Al. 1971. The Savage God. Londen: Penguin.
Freud, Sigmund. 1919. Das Unheimliche.
https://www.gutenberg.org/files/34222/34222-h/34222-h.htm Besoek 15 Oktober 2022
Hambidge, Joan. 1991. Die verlore simbool. Kaapstad: Tafelberg.
- Indeks. Kaapstad: Human & Rousseau.
- Interne verhuising. Johannesburg: Perskor.
- Meditasies. Kaapstad: Human & Rousseau.
- Sanctum. Pretoria: Protea.
Malcolm, Janet. 1984. In the Freud Archives. New York: Papermac.
- The Silent Woman. Londen: Penguin.
Rose, Jacqueline & Mitchell, Juliet. reds. 1985. Feminine sexuality: Jacques Lacan and the école freudienne. Vertaal deur Rose, Jacqueline. New York London: Pantheon Books W.W. Norton.
Stevenson, Anne. 1989. Bitter Fame. New York: Houghton Mifflin Harcourt.