Windpomp
Lank gelede,
ek was nog klein,
staan daar ’n windpomp op ons erf
die bewaker van die water in sy put
hy wik wanneer hy sal skink;
dan roep hy die wind
en ek kyk oopmond
na die dwarreling
van lemme voor sy kop
hoe blaas hy in die put
en kyk, daar loop die water
oor sy lippe, ’n hele dam vol.
Die windpomp staan wydsbeen
en suinig oor sy water,
die dam is amper leeg
hoe klein die kind,
hoe groot sy geloof:
hý sal die wind
nader kan fluit.
Die fluit-fluit lok
’n luggie,
windpomp tel kop op,
wag met ‘n bakhand
agter ’n oor van blik
is daar nog vers twee?
Luister, luister
maar water pomp hy nie.
Toe die kind wegdraai,
wie gee tog om
en dit vir wind?
swaai die kop;
die stert staan pyl, wind-op
en die wieke se draai
flikker soos hande wat klap
die stange stamp voete
teen die pype in die put.
Hoekom is dit nodig
om hierdie oomblik
uit te pak
en jou by te val:
Sy naam was Climax
© Anton Dockel, 2022