my saturnus iii
I can barely conceive of a type of beauty in which there is no melancholy. – Charles Baudelaire
dit word beweer dat die melancholie
die donker bloeiwyse van die milt is:
ek het jou heel eerste in montmartre
voor die sacré coeur gesien
waar jy ’n selfie saam met brel neem
brel het gesê jy moenie weggaan nie
daarna het ek jou gesien in woorde
wat ek nie geskryf het nie
toe sartre en barthes van jou praat
barthes het gerou oor sy ma se dood
en in die cimetière du montparnasse
het jy ’n bos swart angeliere
op baudelaire se laaste rusplek gelê
baudelaire het jou daarvoor bedank
ek het net na middernag gaan stap
en in die rue mouffetard
het valéry en mallarmé my opgelaai
mallarmé het getreur oor die somer
ons het jou gevolg na waar die dood
met ’n flits in die laatnag loop
hulle het my afgelaai met die indoof
van soleil noir
in die milt van parys –
en geswyg
© Mellet Moll, 2022
Jou “my saturnus”-reeks bied ‘n interessante leerkurwe in die melancholie. Welgedaan!