my saturnus iv
I know. You’re off to war now, off to trample flowers. – Tomaž Šalamun (Uit The four questions of melancholy)
jy gun my die kans om vier vrae te vra
daar waar die sterre oor jou hoof neerdaal
en jy soos ‘n sfeer deur die lugruim haas
ek het tussen die koringvelde van zagreb
en die brûe van ljubljana daarna gaan soek
en die ewige ligspieël van die donau
in die delta gevind, maar tomaž, ek wens
ek kon die antwoorde tussen jou versreëls
herken, ek sou in jou glasstil lugleegtes
inwaarts soek na die ontwykende stem
van die melancholie in myself, en die grys
afgronde van my doodsdrang wat swyg
ek sou my afsydige god in die sterre en
wolke gaan soek en hom vra om die reën
oor die saailinge in my beddings te bring
ek sou die donker bloeisels van ’n verlore
liefde in die stem van my weemoed opsoek
en my onaantasbare verlange na plekke
waarheen ek hunker wanneer ek slaap
in die droomboek van bachelard gaan haal
en miskien sou ek die antwoorde vind
as ek die blomme onder my voete kon voel
© Mellet Moll, 2022