I
In Roland Barthes se The pleasure of the text wat oorspronklik in 1973 verskyn het, vind ons die term jouissance. Letterlik vreugde, maar in Lacaniaanse terme eerder ‘n transgressiewe plesier wat nie verwoord kan word nie.
Erotiek en leesplesier gaan terug na Barthes se studie Sade/Fourier/Loyola wat in 1971 verskyn het. Daarin verwys hy na die erotemes en reëls van kombinasie in Sade se tekste. Kombinasies wat herinner aan die boomdiagramme wat ons in die taalkunde vind (Culler, 1983: 48, 49).
In The pleasure of the text sou ‘n mens kan verwys na ‘n erotiek van lees wat die vorige sisteme omverwerp.
II
“Is not the most erotic portion of a body where the garment gapes? In perversion (which is the realm of textual pleasure) there are no “erogenous zones” (a foolish expression, besides); it is intermittence, as psychoanalysis has so rightly stated, which is erotic: the intermittence of skin flashing between two articles of clothing (trousers and sweater), between two edges (the open-necked shirt, the glove and the sleeve); it is this flash itself which seduces, or rather: the staging of an appearance-as-disappearance. ”
Roland Barthes
Daar is twee belangrike tendense in Barthes se werk aanwesig: die strukturalis wat orden neerskryf en struktureer. Daar is dan ook die hedonistiese Barthes wat daardie strukture dekonstrueer soos ons sien in The pleasure of the text.
Tussen 1942 – 1945 was Barthes opgeneem in ‘n sanatorium in Sainte-Hilaire-du-Touvet om te herstel van tuberkulose. Hier het hy indekskaarte gebruik om Michelet, die negentiende eeuse historikus, se werk te bestudeer. ‘n Besonder prolifieke skrywer, bewonderaar van die Franse Rewolusie én veral die Middeleeue. Michelet is bekend vir sy verbeelde geskiedenisse.
In 1954 publiseer hy Michelet par lui-même. Hierdie verblyf was besonder vrugbaar vir hom, maar dit het sy formele akademiese loopbaan uitgestel.
In Roland Barthes par Roland Barthes sien ons foto’s van Barthes met sy sisteem van indekskaarte.
Die dood van die outeur is die geboorte van die leser, ‘n leser aan wie hy uitsonderlike vryhede toeken, soos ons reeds gesien het in sy lesing van Balzac in S/Z (1970/1974).
Die teks van plesier en die teks van jouissance.
Die term jouissance is ‘n Lacaniaanse begrip: die bevrediging van drif. Hierdie konsep is gemunt deur Lacan, toegepas deur Kristeva en Barthes word oorspronklik in Seminaar VII beskryf (1959).
Lisible versus scriptible (oftewel readerly versus writerly) gee aan die leser agentskap. Die teks van plesier word egter in die teks van jouissance een waarin vreugde (tekstase) nie verwoord kan word nie. Barthes gebruik liggaamlike metafore om dit te beskryf.
Inderdaad is die teks wat nie finaal gelees of geïnterpreteer kan word nie, vir hierdie leser een van tekstase. Die teks van subtiliteit. Die teks vir weer besoek.
In Akwarelle van die dors (1982) staan hierdie vers van Johann de Lange.
Die flaminke
Hulle het die pan
met hulle beelde
vir gras verpand:
langsteel-rose blom.
Hulle is soos rose
vir my geliefde:
vars en nog vol dou
van hierdie oggend.
Daar loop hulle nou:
die stil stengels
van hulle bene dra
elk ‘n aarsellose roos.
Hulle loop enkel
in beelde.
‘n Voorbeeld van jouissance en dubbelsinnigheid hoe die flaminke ver-beeld word van die werklikheid tot die gedig vir en oor die geliefde.
“Hulle loop enkel in beelde” word vermenigvuldig …
Van werklikheid tot liefdesvers tot semantiese dubbel-vlakkigheid.
Aarsellose…
Aarsellende …
Met die dubbel-betekenis van aars.
Tweemondig …
Joan Hambidge
12 Desember 2022
Bronne:
Barthes, Roland. 1954. Michelet par lui-même. Parys: Seuil.
–1971/1977. Sade/Fourier/Loyola. Vertaal deur Richard Miller. Londen: Jonathan Cape.
– 1970/1974. S/Z. An Essay. Vertaal deur Richard Miller. New York: Hill and Wang.
– 1973/1975. The pleasure of the text. Vertaal deur Richard Miller. New York: Hill and Wang.
Culler, Jonathan. 1983. Barthes. Glasgow: Fontana Books.
De Lange, Johann. 1982. Akwarelle van die dors. Kaapstad: Human & Rousseau.