Senuwee-ineenstorting
Nee, jene, dis te lank.
Senu-ineenstorting.
Ineenstorting.
Nee man, dis te lank.
Te lank vir iets wat klink
of dit veronderstel is om plotseling
te wees.
Plotseling,
soos daai dag toe ons op Middelkampus
by die boonste venster van die Regte-gebou
uitgehang het om te kyk
hoe Athlone se koeltorings
soos vuurhoutjies dubbeld vou en
ineenstort.
Al daai verkeersknope
en nuuskieriges met verkykers
vir ‘n splitsekonde se plesier
as ‘n nuttelose verlede
ineenstort.
Nee, los daai lang, kort woord.
Gee my eerder breakdown.
Breakdown, soos daai rooi 1970’s Datsun
wat wydsbeen oor die geel lyn
teen die betonmuurtjie
links op die N2 staan.
Een van daai met die blink koevertflapdeurknippe
en die roes op haar bonnet dik doodgeverf,
vier afgeleefde wiele en ‘n draad
wat die deur bo hou.
Vir jare het sy met ‘n rukkerige uitlaatpyp
in die linkerbaan soos ‘n broeis hoender
gepoer-poer-poer
totdat die enjin eendag ingee
en sy afstuur op die muur.
Daar staan sy langs die pad.
Die deure nie eers gesluit nie.
Die bestuurder het geloop –
nie geld om die kar te laat insleep nie.
Ja, breakdown.
Dis ‘n beter woord.
© Marieta McGrath, 2022
