Kerstyd
Ek dek die kerstafel
vir my ouers:
my vader lees uit Die Bybel voor,
wyl twee rondemond engele
saamsing wanneer hy bid
en my moeder reeds besig
om spek in die wildsvleis in te sny
met gemmerbier wat gis in die spens;
die Lion-bier yskoud langs die Grünberger
en biltong gekoop soos die Pinotage
spesiaal vir só ‘n feestyd op die walle van die Vaal.
Helaas sal my ouers hierdie jaar elders
hul Kersfees vier en dalk onthou
hoe ons na die ou Kersaand-program uit Wene
kon kyk – uitgesaai op televisie – en later luister
na Bach voor hulle verhuis het na daardie ruimte
van geborgenheid en musiek wat net hulle kan hoor.
© Joan Hambidge, 2022